OUDTSHOORN NUUS - Die ma van 'n 7-jarige seuntjie wat die afgelope naweek skielik oorlede is, is met meer vrae as antwoorde gelaat.
Die nuus het Maandag aan die lig gekom nadat De Villiers Primêr, die skool waar Ashwin Jonkerman 'n gr. 1-leerder was, 'n inskrywing op hul Facebook-blad gemaak het waarin sy ouers en familie sterkte toegewens word.
Drezene Jonkerman, Ashwin se ma, het vertel dat Sondag 'n normale dag was en dat sy opgestaan het en vir kerk klaargemaak het.
"Ek het 'n familielid gevra om net 'n ogie oor hom te hou. Hy het vir hom koekies gaan koop en gesê dat hy nog bietjie wil gaan lê."
Volgens haar was Ashwin steeds aan die slaap toe sy by die huis aankom.
"Dit was vreemd, want hy slaap nooit so lank nie. Ek het kamer toe gegaan en hom gaan wakker maak, maar hy het nie gereageer nie."
Drezene vertel dat sy aan hom begin skud het en om hulp geroep het.
"Die buurvrou ken noodhulp en sy het ook sy pols gevoel. Ons het die ambulans en polisie ook laat kom, maar hy het nie wakker geword nie."
Volgens haar moet daar nog 'n nadoodse ondersoek gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal, maar hy was volgens haar nie sieklik of beseer nie.
Ashwin is die jongste van drie kinders.
Hy word Sondag 18 Augustus begrawe. Daar sal om 09:00 'n diens by sy huis in Koraanlaan wees waarna die diens om 10:00 by die Sewendedag Adventisteer begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’