OUDTSHOORN NUUS - Met die plaaslike regeringsverkiesing agter die rug wag die inwoners van die groter Oudtshoorn met groot belangstelling om te sien hoe die volgende koalisieregering daar gaan uitsien, en veral wie die dorp se volgende burgemeester gaan wees.
Die DA het ’n beduidende oorwinning behaal deur 10 van Oudtshoorn se 13 wyke in te palm. Dit is ’n aansienlike verbetering op 2021 se plaaslike regeringsverkiesing, toe die party slegs vier wyke gewen het.
Die ANC, wat in 2021 op wyksvlak met agt van die 13 wyke die oorheersende party was, kon dié keer slegs drie wyke behou.
Die DA se oorwinning dui dus op ’n beduidende verskuiwing in die politieke landskap van Oudtshoorn oor die afgelope vyf jaar. Dit beteken egter nie dat die party die munisipaliteit op sy eie kan regeer nie. Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se voorlopige seteltoekenning het die DA 10 setels in die nuwe raad, sonder enige proporsionele verteenwoordigers.
Dit skep ’n vraag oor die party se burgemeesterskandidaat, Henricus Gysman, wat slegs op die DA se proporsionele lys verskyn het en nie as ’n wykskandidaat verkies is nie. Met die DA wat geen proporsionele setels verwerf het nie, is die vraag of Gysman steeds ’n rol in die party se planne vir die burgemeesterskap gaan speel, en wie die party andersins as sy kandidaat gaan aanwys.
Oudtshoorn Courant wag steeds op terugvoer van die DA oor Gysman se kandidatuur en die party se planne vir die burgemeesterskap.
Intussen sal koalisieonderhandelinge waarskynlik die volgende belangrike stap wees. Met 25 setels in die nuwe raad is minstens 13 stemme nodig om ’n meerderheid te vorm. Die DA sal dus die steun van minstens drie ander raadslede nodig hê om beheer oor die raad te verkry.
Die kleiner partye kan gevolglik ’n deurslaggewende rol speel in wie uiteindelik die burgemeesterstoel beklee.
Volgens Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, is die onmiddellike prioriteit ná die verkiesing dat nuutverkose munisipale rade formeel saamgestel word en hul ampsdraers verkies.
Ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture van 1998 moet die munisipale bestuurder die eerste vergadering van ’n nuutverkose raad binne 14 dae nadat die verkiesingsuitslae bekend gemaak is, byeenroep.
Tydens die eerste sitting moet raadslede ’n speaker uit hul geledere verkies. Die verkiesing van burgemeesters en, waar van toepassing, adjunkburgemeesters, moet daarna volgens die toepaslike wetgewende bepalings geskied.
Bredell het gesê sy departement sal munisipaliteite gedurende hierdie oorgang ondersteun deur prosedurele leiding te gee en met bestuursvereistes en wetgewende navrae te help.
Hy het beklemtoon dat dié ondersteuning niepolities is en dat die departement nie politieke partye of die besluite van munisipale rade sal beïnvloed nie.
“Uiteindelik meet inwoners hul munisipaliteite aan of die water loop, die elektrisiteit aan bly, paaie in stand gehou word en hul gemeenskappe die dienste ontvang wat hulle verdien. Dit is waar die fokus vir die volgende vyf jaar moet wees,” het Bredell gesê.
Vir die inwoners van Oudtshoorn is die groot verwagting dat die nuwe raad politieke verskille opsy sal skuif en op die munisipaliteit se diensleweringsuitdagings sal fokus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’