OUDTSHOORN NUUS - Die vrou van Bridgton, wat daarvan aangekla word dat sy haar sewejarige seuntjie vermoor het, het Maandag haar eerste verskyning in die streekhof gemaak.
Die 39-jarige ma, Drezene Jonkerman, het met haar borgtogaansoek die wenkbroue laat lig toe sy beken het dat sy haar kind, Ashwin Jonkerman, verwurg het. Sy het ook erken dat sy verantwoordelik was vir die dood van 'n ander kind van haar.
Jonkerman het volgens die ondersoekbeampte, ao. Wilfred Apollis, na haar arrestasie op 21 Augustus verlede jaar, aan 'n vrouepolisiebeampte, sers. Sharone Flemmer, beken dat sy Ashwin verwurg het toe sy die kind se pa in sy gesig gesien en besluit het om hom dood te maak.
Sy het later agtergekom dat dit haar eie kind was wat aan haar gevra het wat sy doen en dat hy haar liefhet.
Landdros Zuastrid Deyce het borgtog op versoek van die ondersoekbeampte geweier omdat dit nie in belang van geregtigheid is dat sy vrygelaat word nie.
Die beskuldigde se regshulpprokureur, Margareta Aucamp, het die hof Maandag meegedeel dat sy reeds die afskrifte van die dossier ontvang het en vir uitstel gevra het sodat sy verdere instruksies van haar kliënt kan kry.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is uitgestel tot 4 Februarie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’