OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoornse dramaturg, Laerskool Wesbank-onderwyser Wihan Esterhuyse, se teaterteks, Klip en bloed, is uit meer as 230 inskrywings gekies om deel te vorm van Teksmark 2026, 'n inisiatief van die KKNK.
Klip en bloed is 'n plekspesifieke gotiese Karoo-moordraaisel wat die gehoor van die begin af by die intrige betrek.
Die verhaal begin ná 'n moord op die plaas Klipfontein, waar 'n speurder se ondersoek geleidelik 'n web van familiegeheime, grondkwessies, identiteit, erfenis en historiese skuld blootlê.
Die gehoor beweeg aanvanklik deur 'n verwoeste plaashuis voordat hulle voor die huis plaasneem. Soos die ondersoek ontvou, word aanvanklike aannames bevraagteken en kom die vraag na vore of die werklike gevaar dalk nog altyd binne die huis geskuil het.
Esterhuyse is 'n onder-wyser, teatermaker en dramaturg met meer as 15 jaar se onderwyservaring. Hy beskik oor 'n BEd-honneursgraad in onderwysbestuur en was deur die jare by verskeie teaterproduksies as akteur, regisseur, vervaardiger en skrywer betrokke.
Sy betrokkenheid by Tjokkertoneel het ook sy passie vir Afrikaanse teater verder gevoed.
Sy werk fokus op menslike verhoudings, komplekse karakters en die verborge stories wat binne gewone Suid-Afrikaanse gemeenskappe afspeel.
Klip en bloed is sy debuutwerk vir die professionele verhoog en ondersoek temas soos plek, geheue, grond, identiteit en familiegeskiedenis. Twee aanhalings uit die werk vat die kern van die verhaal treffend saam:
"Jy erf nie net grond nie. Jy erf ook alles wat daarop gebeur het," en "Die Karoo is stil. Maar stilte beteken nie daar is niks om te sê nie."
Esterhuyse noem aan Oudtshoorn Courant dat dit 'n ongelooflike ervaring vir hom was om sy teks vir die eerste keer op 'n professionele verhoorg te sien lewe kry.
"Om jou eie woorde deur talentvolle akteurs vertolk te sien is 'n ervaring wat moeilik in woorde beskryf kan word. Teksmark is 'n wonderlike inisiatief van die KKNK wat 'n waardevolle platform skep vir gevestigde én aspirantskrywers om hul werk bloot te stel, terugvoer te ontvang en die geleentheid te kry om hul tekste verder te ontwikkel. Dit gee nuwe stories en stemme die kans om gehoor te word.”
"Ek is opreg dankbaar teenoor die KKNK, Teksmark en almal wat betrokke was om hierdie geleentheid moontlik te maak. Dit het beslis my passie vir teater en die skryfproses verder aangevuur."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’