Update
OUDTSHOORN NUUS - Die geregtelike ondersoek na die skielike dood van die 7-jarige Ashwin Jonkerman is deur plaaslike polisie na 'n moordondersoek verander.
Die voorlopige uitslae van die nadoodse ondersoek het tekens van gemene spel getoon. Hy was 'n gr. 1-leerder by De Villiers Primêr. Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het aan Oudtshoorn Courant bevestig dat daar nou 'n moordondersoek is.
"Die geregtelike doodsondersoekdossier is na moord verander ná die voorlopige uitslag van die nadoodse ondersoekverslag. Hierdie verslag vorm deel van die voortgesette polisieondersoek."
Die seun se liggaam is Sondag 11 Augustus om 11:30 in sy slaapkamer n Korhaanlaan, Bridgton gevind. Met nooddienste se aankoms by die huis het paramedici hom op die toneel dood verklaar."
Na sy dood was Drezene Jonkerman, Ashwin se ma, in gesprek met die koerant en het haar ongeloof en skok uitgespreek. "Ek het 'n familielid gevra om net 'n ogie oor hom te hou. Hy het vir hom koekies gaan koop en gesê dat hy nog bietjie wil gaan lê."
Volgens haar was Ashwin steeds aan die slaap toe sy by die huis aankom.
"Dit was vreemd, want hy slaap nooit so lank nie. Ek het kamer toe gegaan en hom gaan wakker maak, maar hy het nie gereageer nie."
Drezene het vertel dat sy aan hom begin skud het en om hulp geroep het.
"Die buurvrou ken noodhulp en sy het ook sy pols gevoel. Ons het die ambulans en polisie laat kom, maar hy het nie wakker geword nie."
Ashwin is die jongste van drie kinders. Begrafnisreëlings is intussen uitgestel tot hierdie week.
Vorige artikel: 7-jarige sterf in sy slaap
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’