PRINS ALBERT NUUS - Die nuwe munisipale raad in Prins Albert staan voor die uitdaging om werkbare koalisies te vorm nadat geen enkele party ’n volstrekte meerderheid behaal het nie.
Die PA het ’n groot politieke deurbraak in Prins Albert gemaak deur vier van die munisipaliteit se vyf wyke te wen en altesaam vyf van die 10 raadsitplekke te verower.
Die DA het vier setels en die ANC een.
Die vyf verkose wyksraadslede, in wykvolgorde, is Granwill Jermaine Apies (PA), Elsabé Koen (DA), Arnold Jonathan Mackay (PA), Goliat Lottering (PA) en Sarie Hendricks (PA).
Die PA het ook een proporsionele setel gekry, terwyl die DA drie en die ANC een verwerf het.
Dit is ’n beduidende verskuiwing sedert die 2021-verkiesing, toe die DA en die destydse Karoo Gemeenskap Party (KGP) elk twee wyke gewen het. Die PA het toe slegs een setel in die sewe-lid-raad gehad en geen wyke gewen nie.
Die nuwe raad het intussen van sewe tot 10 lede gegroei, aangesien die munisipaliteit nou vyf wyke het.
Met ses stemme wat nodig is vir ’n meerderheid, sal die PA minstens een ander raadslid se steun moet kry. Die DA se vier setels maak die party ’n belangrike rolspeler in enige moontlike koalisie, terwyl die ANC se enkele setel ook deurslaggewend kan wees.
DA oor koalisies
Thomas Walters, adjunkvoorsitter van die DA se federale raad, sê die party tree op ’n gestruktureerde wyse met ander partye in gesprek om vas te stel wie hul waardes en strewe na stabiele regering deel.
Volgens Walters het slegs die nasionale onderhandelingspan tans ’n mandaat om plaaslike ooreenkomste te onderhandel, terwyl die federale uitvoerende komitee sulke ooreenkomste moet goedkeur.
Hy sê die DA sal die publiek op hoogte hou sodra daar vordering is, maar beklemtoon dat die party nie deur die media of sosiale media onderhandel nie.
Die PA het nie op navrae reageer nie.
Lees ook:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’