OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorniete was die week geskok na dit aan die lig gekom het dat die geregtelike doodsondersoek na die skielike dood van die 7-jarige Ashwin Jonkerman deur die polisie na 'n moordondersoek verander.
Dit het die week aan die lig gekom dat die voorlopige uitslae van die nadoodse ondersoek tekens van gemene spel getoon het. Hy was 'n gr. 1-leerder by De Villiers Primêr. Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het aan Oudtshoorn Courant bevestig dat daar nou 'n moordondersoek is.
"Die geregtelike doodsondersoekdossier is na moord verander ná die voorlopige uitslag van die nadoodse ondersoekverslag. Hierdie verslag vorm deel van die voortgesette polisieondersoek."
Die seun se liggaam is Sondag 11 Augustus om 11:30 in sy slaapkamer in Korhaanlaan, Bridgton gevind. Met nooddienste se aankoms by die huis het paramedici hom op die toneel dood verklaar."
Volgens ingeligte bronne blyk dit dat Ahswin waarskynlik verwurg is, maar dit kon nie bevestig word nie.
Ek wil net my kind begrawe
Drezene Jonkerman, Ashwin se ma, het die week gesê dat sy bitter geskok en seergemaak was toe sy uitvind dat haar seun nie aan natuurlike oorsake oorlede nie en dat daar nou 'n moordondersoek is.
"Ek wil nie meer hieroor praat nie, dit is te lelik en seer. Ek wil net my kind onder die grond sit sodat hy kan rus, dit is nie reg dat hy so lank in 'n yskas moet lê nie. Hy het dit nie verdien om so dood te gaan nie. Ek is baie kwaad en seer, ek soek net antwoorde en berusting."
Kort na sy moord het sy vertel dat sy op 11 Augustus, die dag van sy dood, kerk toe gegaan het en dat Ashwin tuis gebly het omdat hy nog moeg gevoel het. "Ek het 'n familielid gevra om net 'n ogie oor hom te hou. Hy het vir hom koekies gaan koop en gesê dat hy nog bietjie wil gaan lê."
Volgens haar was Ashwin steeds aan die slaap toe sy by die huis aankom.
"Dit was vreemd, want hy slaap nooit so lank nie. Ek het kamer toe gegaan en hom gaan wakker maak, maar hy het nie gereageer nie."
Jonkerman het vertel dat sy aan hom begin skud het en om hulp geroep het.
"Die buurvrou ken noodhulp en sy het ook sy pols gevoel. Ons het die ambulans en polisie laat kom, maar hy het nie wakker geword nie."
Tans wag sy op die speurder wat die saak ondersoek om die nodige papierwerk te verskaf sodat sy Ashwin kan begrawe. "Die begrafnisondernemer wag op die vorm sodat ons hom kan begrawe, ek hoop ek kry dit voor die naweek."
Ashwin is die jongste van drie kinders. 'n Jonger boetie, Mehano is op 2 jaar oorlede aan 'n epileptiese aanval.
Begrafnisreëlings is uitgestel tot Sondag 25 Augustus. Daar sal om 09:00 'n diens by sy huis in Koraanlaan wees waarna die diens om 10:00 by die Sewendedag-Adventiste begin.
Lees die vorige berigte hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’