DE RUST NUUS - "Sy het De Rust laat blom. Nou blom die dorp vir haar."
Dit was die woorde van Marita Serfontein oor verlede Saterdag, 7 November, se Blomkoppe-projek wat deur Freda Schoeman geïnisieer is. Dit was voorwaar 'n dag wat niemand sal vergeet nie.
Die Blomkoppe is gereël nadat Schoeman onlangs met fase 3-borskanker gediag-noseer is. Dit het as 'n eenvoudige idee begin en het 'n vrolike, kleurvolle oggend geword toe ander inwoners ook hul koppe laat kaal skeer en met malvamotiewe laat beskilder het.
Schoeman is die vrou wat ná die sluiting van Meiringspoort vroeër vanjaar die droom gehad het om De Rust vol malvas te plant.
Uit dié droom het Mal'va De Rust ontstaan. "En nou, terwyl haar eie kankerpad pas begin het, het die dorp op die mooiste manier vir haar gewys hoeveel mense omgee," sê Serfontein, vir wie Schoeman se diagnose ook baie persoonlik is, aangesien sy self 11 jaar gelede met borskanker gediagnoseer is.
Toe Schoeman se diagnose bekend word, was dit vir Serfontein vanselfsprekend om haar te ondersteun en haar eie hare af te skeer - nie net uit solidariteit nie, maar ook om te wys dat daar anderkant 'n kankerdiagnose hoop is.
Hele dorp is genooi
Hulle het toe besluit om sommer die hele dorp uit te nooi om deel van die inisiatief te word. Mans en vroue van alle ouderdomme het opgedaag. Party het hul koppe laat skeer, ander het hul hare pienk en in allerhande kleure laat spuit, terwyl plaaslike kunstenaars pragtige malvas op kaal koppe geskilder het.
Schoeman sê die oggend het haar stoutste verwagtinge oortref.
"Die hele dag was vir my net een positiewe, genotvolle, lekker ervaring. Die feit dat so baie mense opgedaag het, die vrolikheid daaragter en sommer net almal se saamstaan was vir my wonderlik. Ek het veel meer daaruit gekry as wat ek daarin gesit het, en ek is regtig diep dankbaar. Ek wens meer mense wat deur kanker gaan kon dit beleef."
Sy vertel dat sy sedert haar diagnose ongelooflike goedheid en ondersteuning ervaar. Sy reageer tans goed op behandeling en is baie dankbaar daarvoor.
Wat haar Saterdag veral geraak het, was nie net die groot getal mense wat opgedaag het nie, maar ook die vrolikheid, spontane deelname en die manier waarop almal saamgestaan het.
Sy was veral verras deur mense van wie sy dit nooit sou verwag het nie, asook die mans wat sonder huiwering hul koppe laat skeer en verf het.
Vir haar het die oggend ook 'n belangrike besef gebring: kanker hoef nie elke oomblik van 'n mens se lewe donker en swaar te maak nie. Daar is steeds plek vir vreugde, vriendskap en die mooi dinge wat elke dag bied.
Vir Serfontein was die dag enersyds 'n wonderlike ervaring, maar andersyds ook uiters emosioneel. Dit het die moeilike stryd wat sy self moes deurmaak weer vars in haar geheue teruggebring.
"Met kanker lê vir 'n mens 'n moeilike pad voor, maar dit is nie onoorwinlik nie. Die geleentheid het net weer bewys hoeveel daar is om voor dankbaar te wees."
Die Blomkoppe-projek was ook 'n fondsinsameling ten bate van Project Flamingo in George om vroue te help om vinniger toegang tot borskankerbehandeling te kry. 'n Deel van die opbrengs sal ook aan Mal'va De Rust gaan om Schoeman se oorspronklike droom verder te laat groei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’