DE RUST NUUS - Amira Willighagen (22), die internasionale operaster wat reeds op negejarige ouderdom die wêreld betower het, tree om 18:00 op 6 Desember tydens ’n besonderse Kerssangdiens in die NG Kerk De Rust op.
Sy is in 2004 in Nijmegen, Nederland, gebore en het in 2013 internasionale bekendheid verwerf toe sy met haar indrukwekkende uitvoering van “Nessun Dorma” die TV-talentkompetisie Holland’s Got Talent gewen het.
Die wêreldbekende violis en dirigent André Rieu het haar talent raakgesien en haar genooi om saam met hom en sy Johann Strauss-orkes op te tree. Haar debuutalbum, Amira, het in 2014 goue status bereik.
Met haar Suid-Afrikaanse moeder het Willighagen ’n sterk band met Suid-Afrika. Sy woon sedert 2018 in die land.
Sy befonds ’n stigting, All children have a right to play, wat die verwesenliking is van ’n ideaal.
Sy en haar broer is by die oprigting van parkies in minder bevoorregte gemeenskappe in Suid-Afrika betrokke.
Sy voel dat kos en klere belangrik is, maar so ook die reg om te kan speel en met vriende te kan verkeer. Op hierdie stadium het hulle al 32 parkies by skole in Gauteng gebou.
Hoe het dit gebeur dat Willighagen en die kerk by mekaar uitgekom het vir die vertoning?
Willighagen het verlede jaar by ds. Heerden van Niekerk en sy vrou, Hannelie, se vorige gemeente, Welgemoed, waar hulle 28 jaar was, opgetree.
Dié Kerssangdiens was so ’n groot sukses dat Van Niekerk, wat nou predikant in De Rust is, vanjaar Willighagen se agent genader het om te hoor of sy vir ’n optrede in De Rust beskikbaar is.
Hoewel haar program propvol is, was sy beskikbaar vir die Kerssangdiens.
Willighagen gaan liedere sing soos “How Great Thou Art”, “Pie Jesu”, “Amazing Grace”, “The Lord’s Prayer”, “O Holy Night” en “The Holy City”.
Die veteraanaktrise Lida Botha gaan drie pragtige gedigte deur W.E.G. Louw, Antjie Krog en Vincent van der Westhuizen voorlees.
Volgens Van Niekerk word die geleentheid ingerig as ’n erediens met ’n kort Skriflesing en gemeentesang, gevolg deur van Willighagen en Botha se optredes.
Toegang is gratis. Die gemeente bied ook na die diens ’n gratis vingerete en iets te drinke aan in die kerksaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’