OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van die Groter Oudtshoorn sal volgende Woensdag, 18 November, weet wie die dorp se nuwe burgemeester is en hoe die politieke magsverhoudinge in die nuutverkose munisipale raad daar gaan uitsien.
Die munisipaliteit het vandag, 12 November, bevestig dat die eerste raadsvergadering om 09:00 in die Banketsaal sal plaasvind. Tydens dié vergadering sal die nuwe raad onder meer ’n burgemeester en speaker verkies, terwyl die politieke partye se koalisie-ooreenkomste en die verdeling van mag bepalend sal wees vir die munisipaliteit se politieke rigting.
Die DA sal 'n nuwe burgemeesterskandidaat vir Oudtshoorn moet aanwys aangesien sy oorspronklike kandidaat, Henricus Gysman, nie 'n setel in die nuwe munisipale raad het nie.
Gysman het slegs op die DA se proporsionele verteenwoordigingslys verskyn en is nie as 'n wyksraadslid verkies nie.
Dit laat vrae ontstaan oor wie die DA se nuwe burgemeesterskandidaat sal wees en met watter partye hy koalisies sal vorm om 'n stabiele regering in Oudtshoorn te verseker.
Die DA het 'n beduidende oorwinning in die plaaslike regeringsverkiesing behaal deur 10 van Oudtshoorn se 13 wyke in te palm. Die ANC het die oorblywende drie wyke gewen. Die DA se oorwinning beteken egter nie dat die party die munisipaliteit op sy eie kan regeer nie.
Die nuwe raad bestaan uit 25 lede, wat beteken dat minstens 13 stemme nodig is om 'n meerderheid te vorm. Die DA sal dus die steun van minstens drie ander raadslede moet kry.
Die DA het vandeesweek gesê dat hy steeds met Gysman in gesprek is en kyk hoe hy binne die party benut kan word. Die party het egter nog nie aangedui wie van sy 10 verkose wyksraadslede moontlik as burgemeester kan dien nie.
DA wil met partye oor koalisies praat
Ashor Sarupen, voorsitter van die DA se Federale Raad, het gesê die party se Federale Uitvoerende Gesag het besluit dat koalisiegesprekke met alle politieke partye gevoer sal word in munisipaliteite waar geen party 'n volstrekte meerderheid behaal het nie.
Volgens Sarupen sal die DA samewerking soek met partye wat hulle verbind tot onder meer skoon en verantwoordbare regering, die uitroei van korrupsie en dienslewering aan almal.
"Ons doelwit is om stabiele, effektiewe regerings te vestig wat inwoners eerste stel, verantwoordbaarheid herstel en die dienste lewer wat gemeenskappe verdien," het hy gesê.
Die gesprekke sal nasionaal gekoördineer word onder die gesag van die DA se Federale Uitvoerende Gesag.
ANC sluit DA-koalisie nie tans in
Die ANC sê hy sal nie enige koalisie-ooreenkoms ondersteun wat nie die belange van gemeenskappe, veral arm inwoners, prioritiseer nie.
Die party wag egter op leiding van sy nasionale leierskap voordat finale besluite oor moontlike koalisievorming geneem word.
Volgens Sifiso Mtsweni, die ANC se provinsiale woordvoerder, aanvaar die party die verkiesingsuitslag as 'n ware weerspieëling van die kiesers se wil.
Mtsweni het bevestig dat die ANC partye sal betrek wat daartoe verbind is om gemeenskappe as 'n geheel te dien. Die party het ook aangedui dat hy nie op hierdie stadium 'n koalisie met die DA ondersteun nie.
Die ANC het nog nie sy eie burgemeesterskandidaat of ander leierskapskandidate vir die nuwe raad gefinaliseer nie. Dié besluite sal eers ná afloop van die koalisiegesprekke geneem word.
Die party se prioriteite is onder meer die instandhouding van groot-maatwater- en rioolinfrastruktuur, die beskikbaarstelling van bekostigbare grond, behuising, padinstandhouding en streng finansiële beheermaatreëls.
Mandilakhe Danson Matika is RAM se raadslid. Foto: Verskaf
RAM belowe om raad aanspreeklik te hou
Die nuut gestigte Restore Azania Movement (RAM), wat een setel in die nuwe raad verower het, sê hy wil 'n sterk stem vir verantwoordbaarheid wees.
Volgens sy president, Mandlenkosi Douse, is dit 'n besondere prestasie vir 'n beweging wat slegs agt maande voor die verkiesing begin organiseer het.
RAM sê hy sal diegene aan bewind streng aanspreeklik hou en deursigtigheid oor die besteding van belastingbetalers se geld eis.
Die beweging wil ook politieke stabiliteit bevorder, beleggings lok en die ekonomiese bemagtiging van jongmense en vroue ondersteun. Mandilakhe Danson Matika is as RAM se genomineerde raadslid aangewys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’