Update
OUDTSHOORN NUUS - Die ma van die vermoorde, 7-jarige Ashwin Jonkerman het Dinsdag 27 Augustus in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn om aansoek te doen vir regshulp. Haar volgende verskyning is op Donderdag 29 Augustus vir 'n formele borgtogaansoek. Sy bly tans in aanhouding.
Haar eerste verskyning was op Vrydag 23 Augustus waartydens sy op aanklag van moord verskyn het. Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het in 'n persverklaring bevestig dat die seun verwurg is en dat sy ma in hegtenis geneem is vir moord.
Sedert dit bekend geraak het dat Drezene Jonkerman gearresteer is vir haar seun se dood gons dit op sosiale media met inwoners wat geskok en stomgeslaan is. Die motief vir die daad van moedermoord (filicide) is tans onbekend.
Ashwin is Saterdag 24 Augustus in Bridgton ter ruste gelê.
Tydens 'n huldeblyk is verwys na die engelkind wat sy kort skoolloopbaan by Mickey Mouse-kleuterskool begin het, en voor sy moord, 'n leerder van De Villiers Primêr was. Hy is as 'n stil, vriendelike en behulpsame kind beskryf wat met klein voetjies groot spore in mense se harte getrap het.
Die seun se liggaam is Sondag 11 Augustus om 11:30 in sy slaapkamer in Korhaanlaan, Bridgton gevind. Met nooddienste se aankoms by die huis het paramedici hom op die toneel dood verklaar.
Die dossier vir geregtelike doodsondersoek is na moord verander ná die voorlopige uitslag van die nadoodse ondersoekverslag. Hierdie verslag vorm deel van die voortgesette polisieondersoek.
Ten slotte noem Spies dat die stasiebevelvoerder van Oudtshoorn-polisie, brig. Avral Kriga, die ondersoekspan se lede prys vir hul ywer wat gelei het tot die arrestasie en daaropvolgende hofverskyning van die beskuldigde.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’