OUDTSHOORN NUUS - Sy het gedink sy verwurg haar kind se pa. So het die 39-jarige Drezene Jonkerman, ma van die vermoorde 7-jarige Ashwin Jonkerman, aan 'n polisiebeampte, sers. Sharone Flemmer, vertel nadat sy op 21 Augustus in hegtenis geneem is vir haar kind se moord. Sy het tydens haar borgtogaansoek aangedui (op Dinsdag 3 September) dat sy skuldig wil pleit.
Die moord
Ashwin se lewelose liggaam is op 11 Augustus in sy bed gekry. Jonkerman het aanvanklik aan Oudtshoorn Courant vertel dat hy in sy slaap dood is. Dit het 'n week later aan die lig gekom dat Ashwin vermoor is. Jonkerman het toe aan Oudsthoorn Courant gesê dat sy bitter geskok en seergemaak was toe sy uitvind dat haar seun nie aan natuurlike oorsake oorlede nie en dat daar nou 'n moordondersoek is.
"Ek wil nie meer hieroor praat nie, dit is te lelik en seer. Ek wil net my kind onder die grond sit sodat hy kan rus, dit is nie reg dat hy so lank in 'n yskas moet lê nie. Hy het dit nie verdien om so dood te gaan nie. Ek is baie kwaad en seer, ek soek net antwoorde en berusting."
Sy het toe ook vertel dat sy twee jaar gelede nog 'n kind aan die dood afgestaan het toe hy weens 'n epileptiese aanval oorlede is.
Borgtogaansoek
Die ondersoekbeampte, ao. Wilfred Apollis het tydens die borgtogaansoek tot groot skok onthul dat Jonkerman erken het sy haar het seun verwurg, maar dat sy gedink het dat dit haar kind se pa is wat sy wurg. Hy staan borgtog teen.
Volgens Apollis het Jonkerman aan Flemmer vertel dat sy die oggend van Sondag 11 Augustus opgestaan en koffie vir haar seun gemaak het. Daarna wou sy hom was. Nadat sy die waslap met seep gesmeer en die kind se gesig wou was, het sy sy pa in sy gesig gesien en hom begin wurg. Volgens haar het die kind aan haar gevra, "Ma wat doen jy? Ek is lief vir jou." Sy het egter voortgegaan en hom daarna op sy bed gaan neerlê met sy gesig na die muur, en haar verder gaan regmaak vir kerk. Toe sy later die kind weer oopmaak het sy glo besef dat dit nie die pa is wat sy vermoor het nie. Sy het uit die huis gehardloop en haar buurvrou gevra om 'n ambulans te bel.
Volgens Apollis was Jonkerman in die dae na haar bekentenis baie hartseer en het ook baie gehuil.
Jonkerman het self in die borgtog-aansoek getuig en is met die aanvang van die aansoek deur die hof meegedeel dat sy nie oor die meriete van die saak hoef te praat nie, maar sy het tog vrae van die staatsaanklaer, Danielle van der Westhuizen, geantwoord.
Sy het hofgangers na hul asems laat snak toe sy geantwoord het dat sy ook in 2022 'n 2-jarige kind van haar verwurg het. Luidens gerugte, het hulle vermoed dat die kind aan epilepsie oorlede is. Voorts het sy getuig dat haar verhouding met Ashwin se pa sewe jaar gelede beëindig is toe sy swanger was omdat hy haar misbruik het. Hulle was sedert September verlede jaar weer bymekaar, maar die verhouding is weer op Vadersdag vanjaar beëindig.
Jonkerman het getuig dat haar twee ander kinders van onderskeidelik 16 en 12 jaar, by haar suster woon omdat sy hulle nie wou blootstel aan die tikrokery van haar en die twee volwasse dogters van haar suster wat saam met haar woon nie.
Sy het ook beken dat sy aan depressie ly en daarvoor behandeling kry.
Apollis staan borgtog vir Jonkerman teen vir haar eie veiligheid omdat sommige inwoners van Korhaanlaan, die straat waar sy woon, hom glo meegedeel het dat sy seergemaak gaan word.
Landdros Zuastrid Deyce het dit aan Jonkerman gestel dat sy teregstaan op 'n bylae 6-misdaad en die onus op haar rus om die hof te oortuig dat dit in belang van geregtigheid is dat borgtog aan haar toegestaan moet word. Volgens Jonkerman het sy R1 000 vir borgtog en wil sy vrygelaat word om by haar ander twee kinders te wees en sy ook nie haar suster se twee dogters in haar huis vertrou nie. Sy het daarna die hof in trane verlaat.
Die saak word vandag, Donderdag 5 September, voortgesit met die getuienis van die ondersoekbeampte wat onder andere oor Jonkerman se vorige veroordelings sal getuig.
- Engelkind begrawe
- Vrou in hegtenis na seuntjie se dood
- Moordondersoek geopen na seuntjie se dood
- Ashwin glo vermoor
- Moordondersoek geopen na seuntjie se dood
- 7-Jarige sterf in sy slaap
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’