OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Drezene Jonkerman (39) van Korhaanlaan, Bridgton, wat van moord op haar sewejarige seuntjie aangekla word, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-landdroshof vir verdere ondersoek tot Woensdag 2 Oktober uitgestel. Haar borgtogaansoek was onsuksesvol.
Die borgtogaansoek het verlede Dinsdag begin en is toe na Donderdag vir uitspraak uitgestel.
Jonkerman het volgens die ondersoek-beampte, ao. Wilfred Apollis, na haar arrestasie op 21 Augustus vanjaar, aan 'n polisiebeampte, sers. Sharone Flemmer, beken dat sy haar seuntjie, Ashwin Jonkerman, verwurg het toe sy die kind se pa in sy gesig gesien en besluit het om hom dood te maak. Sy het later agtergekom dat dit haar kind was.
Landdros Zuastrid Deyce het verlede Donderdag tydens Jonkerman se borgtog-aansoek bevind dat sy nie uitsonderlike redes voor die hof gebring het en dit in belang van geregtigheid is om borgtog te weier.
Die landdros was duidelik nie beïndruk met die getuienis van die ondersoekbeampte nie. "Die getuienis van die staat was van 'n swak gehalte," het sy in haar uitspraak gesê.
Apollis het uit die staanspoor borgtog vir Jonkerman teengestaan.
Hy het Donderdag ten aanvang van sy voortgesette getuienis weer gesê dat hy borgtog teenstaan. 'n Rukkie later het hy op vrae van die landdros geantwoord dat streng voorwaardes gestel moet word indien borgtog wel toegestaan word.
Volgens hom het sowat tien inwoners van Korhaanlaan hom meegedeel dat Jonkerman in aanhouding moet bly omdat sy seergemaak kan word. Hy kon egter geen verklarings hieroor aan die hof voorlê nie.
Hy het ook 'n memorandum voorgelees wat deur Leon Campher aan hom oorhandig is waarin versoek word dat Jonkerman in aanhouding bly.
Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Wynand Malan, het die hof vir borgtog gevra omdat geen bewyse voor die hof is dat sy 'n geneigdheid het om misdaad te pleeg of mense gedreig het nie.
Sy het ook geen ander hangende sake nie en is ook nie 'n vlugrisiko nie. Voorts het sy 'n vaste adres en wil omsien na haar twee ander kinders.
Jonkerman het na die weiering van borgtog die hofsaal met 'n glimlag verlaat.
- Ma wat doen jy? Ek is lief vir jou
- Engelkind begrawe, ma agter tralies
- Engelkind begrawe
- Vrou in hegtenis vir seuntjie se moord
- Ashwin glo vermoor
- Moordondersoek geopen na seuntjie se dood
- 7-Jarige sterf in sy slaap
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’