Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van die vrou wat van moord op die rugbyspeler Boutros (Boelie) May (29) aangekla word, en vir 'n week op die hofrol was, moes Maandag 17 Februarie, uitgestel word omdat beide die staatsaanklaer en die landdros weens siekte afwesig was.
Die verhoor sou amptelik Maandag begin. 'n Groot aantal familielede en vriende van beide die oorledene en die beskuldigde het vir die aanhoor van die saak opgedaag.
Felicia Afrika (25) word daarvan aangekla dat sy die aand van 12 Februarie 2023 vir May in St Johnstraat naby 'n bekende kuierplek met 'n skerp voorwerp gesteek het. Hy het later in die hospitaal gesterf. Hy was 'n gewilde lid van die Bridgton-rugbyklub.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak verlede jaar vir 'n week se verhoor, van 17 tot 21 Februarie 2025, uitgestel omdat dit die eerste beskikbare week vir die verhoor was.
Afrika het die hof toe meegedeel dat sy nie van assessore gebruik wil maak nie. Volgens haar was dit 'n voorstel van haar vorige regsverteenwoordiger wat hom intussen van die saak onttrek het.
Sy het toe regshulp bekom en 'n aanklaer van Beaufort-Wes is ook vir die saak aangestel.
Streeklanddros Daniel Boks het die saak op versoek van die staat tot 24 Februarie uitgestel vir die vasstelling van nuwe verhoordatums.
Afrika se borgtog van R2 000 en borgtogvoorwaardes is tot dan verleng.
Vorige artikels:
- Geliefde Bridgton rugbyklubspeler oorlede
- Verdagte vasgetrek in Boutros May moord
- Boutros May moord borgaansoek uitgestel
- Gemeenskap betoog teen borgtog
- Gemeenskap hou plakkaatbetoging vir Boelie
- Opvolg borgtogaansoek van Felicia Afrika
- Duisende by Boelie se begrafnis
- Boelie moordverdagte doen aansoek vir borgtog
- Borgtogaansoek uitgestel
- Boutros-moord Afrika weer voor op 24 Mei
- Borgtogaansoek weer uitgestel
- Boutros-moordsaak uitgestel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’