Sponsored Content
SAKENUUS - Vir beide eienaars en okkupeerders is daar streng wetlike prosesse wat gevolg moet word voordat iemand wettig uitgesit kan word.
Hier is ’n kort uiteensetting van die proses en elke party se regte.
Wetlike raamwerk
Residensiële uitsettings in Suid-Afrika word hoofsaaklik gereguleer deur die Prevention of Illegal Eviction from and Unlawful Occupation of Land Act 19 of 1998, algemeen bekend as die PIE Wet.
Die doel van dié wet is om ’n balans te handhaaf tussen die eienaar se reg om sy eiendom te beskerm, en die okkupeerder se grondwetlike reg op menswaardigheid en behuising.
Die Wet op Huurbehuising, Wet 50 van 1999 en die Verbruikers Wet, Wet 68 van 2008 sal ook ’n impak hê op sekere uitsettings, byvoorbeeld eiendomme wat in terme van ’n huurkontrak verhuur word.
Beëindiging van die reg om te okkupeer
Voordat enige uitsettingsaansoek gebring kan word, moet die eienaar die okkupeerder se reg om die eiendom te okkupeer behoorlik beëindig.
In die meeste gevalle beteken dit dat die huurkontrak eers behoorlik gekanselleer moet word deur skriftelike kennisgewing soos vereis deur die kontrak of wetgewing.
Die okkupeerder sal dan ’n onwettige okkupeerder wees en sal die eienaar die reg hê om ’n uitsettingsaansoek te bring.
Aansoek by die hof
Geen persoon mag sonder ’n hofbevel uitgesit word nie. ’n Eienaar moet dus ’n formele uitsettingsaansoek by die landdros- of hooggeregshof indien waarin hy versoek dat die okkupeerder uitgesit word.
Die aansoek sluit beëdigde verklarings in wat die basis vir die uitsetting uiteensit.
Beteken van PIE-kennisgewing
Die eienaar moet ’n PIE-kennisgewing op die okkupeerder beteken, wat minstens 14 dae voor die verhoordatum op die okkupeerder en die plaaslike munisipaliteit beteken moet word.
Hierdie kennisgewing verduidelik:
• die besonderhede van die uitsettingsaansoek,
• die datum waarop aangeleentheid aangehoor sal word en
• die okkupeerder se reg om te verskyn en vertoë te lewer.
Tydens die aanhoor van die aangeleentheid oorweeg die hof verskeie faktore, onder meer:
• hoe lank die okkupeerder reeds op die eiendom woon,
• die beskikbaarheid van alternatiewe akkommodasie,
• die omstandighede van kwesbare persone (bv. kinders, bejaardes, gestremdes),
• die eienaar se regte en redes vir die uitsetting.
Die hof moet uiteindelik bepaal of ’n uitsettingsbevel in die spesifieke omstandighede regverdig is.
Indien die hof ’n uitsettingsbevel toestaan, sal ’n datum bepaal waarop die okkupeerder moet ontruim. As die okkupeerder steeds weier omte trek, mag slegs die balju die uitsetting fisies uitvoer, nooit die eienaar nie.
Belangrike wenke
Vir eienaars
• Moet nooit selfslopery, afsluiting van krag/water, of intimidasie gebruik nie, dit is onwettig.
• Hou alle kommunikasie skriftelik.
• Raadpleeg ’n regsadviseur vroegtydig om foute en vertragings te voorkom.
Vir okkupeerder
• Moenie ’n hofkennisgewing ignoreer nie, verskyn in die hof
• Jy het die reg op ’n billike proses
• Indien jy finansiële- of behuisingsprobleme het, stel die hof en munisipaliteit in kennis.
’n Uitsettingsaansoek is ’n wettige proses wat met omsigtigheid en respek vir albei partye se regte hanteer moet word. Deur die korrekte prosedure te volg, kan onnodige konflik en lang hofgedinge voorkom word.
Prokureurs help eienaars en okkupeerders om die regte stappe te neem en hul regte te beskerm.
Omdat ’n uitsetting maklik ingewikkeld en tydrowend kan raak, is hierdie slegs ’n kort oorsig van die proses. Kontak gerus HB Prokureurs vir verdere advies.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’