PRINS ALBERT-NUUS - Die waaksaamheid van die polisie se blitspatrollie-eenheid, wat strategies langs die provinsie se in- en uitgangsroetes ontplooi is om die smokkel van onwettige dwelms, ongelisensieerde vuurwapens en bedreigde spesies te bekamp, het daartoe gelei dat twee mans in hegtenis geneem is vir die onwettige besit van ’n bedreigde ietermagog (pangolin).
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval op Maandag 17 November omstreeks 08:30 plaasgevind tydens ’n voertuigkontrolepunt op Prins Albertweg.
Lede van die blitspatrollie het ’n Hyundai-voertuig afgetrek en met ’n deursoeking begin. ’n Boks met ’n ietermagog is aangetref, ’n hoogs bedreigde spesie wat dikwels geteiken word vir onwettige handel. Die dier het ’n geraamde straatwaarde van R200 000.
Die polisie het die dier gekonfiskeer en onmiddellik in veilige bewaring geplaas. Dit is later aan Kaapse Natuurbewaring oorhandig vir verdere versorging.
Die twee verdagtes, vermoedelik afkomstig van Delft in Kaapstad, is in hegtenis geneem en bly in polisie-aanhouding.
Hulle sal in die Prins Albert-landdroshof verskyn sodra formele aanklagte teen hulle gelê is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’