OUDTSHOORN NUUS - Hy het nooit beplan om ’n boek te skryf nie, sê Andries Marais wat die afgelope 20 jaar in Oudtshoorn woon en aan die polisie verbonde is.
“Ek skryf al vir jare dagstukkies en herinneringe neer, en deel dit met kollegas, vriende en familie,” het hy hierdie week vertel.
Kollegas het hom egter aangepoor om die skryfstukke in ’n boek saam te stel. Hy het die eerste kopie van Het ek genoeg gedoen? verlede week ontvang.
Marais vertel dat die boek se vier afdelings vertellings bevat wat dele van sy polisieloopbaan van bykans 40 jaar, sy liefde vir sport, sy geloof en nostalgiese herinneringe insluit. Alhoewel die gedeelte oor sport, die kortste gedeelte in die boek is, verteenwoordig dit waarskynlik die grootste oorwinning en prestasie in Marais se lewe.
Op elfjarige ouderdom was hy en sy jonger broer in ’n grubotsing betrokke waarin hulle ma en sussie omgekom het. Marais en sy broer het ernstige beenbeserings opgedoen en het drie maande in die hospitaal deurgebring, gevolg deur ’n verdere drie maande se rehabilitasie om weer te leer loop.
“Die spesialis het gesê ons sou nooit weer aan sport kon deelneem nie, maar deur genade het ek en my broer hom verkeerd bewys.”
Die bewys van sy deursettingsvermoë is sy rugbyloopbaan waar hy in die Noord-Vrystaat Hoërskoolspan opgeneem was en daarna ook in die o. 20-span. Hy het later op atletiek gefokus en Springbok-kleure in diskus verwerf, twee nasionale polisierekords en vyf SWD-meestersrekords gebreek.
Hy getuig dat alles in sy lewe aan God se genade toegeskryf word en daarom is die boek vir hom ’n manier om nie net sy geloof nie, maar ook sy dankbaarheid teenoor soveel mense wat oor sy pad gekom het, te betuig.
“Ek wil graag sien dat elke persoon wat my boek lees, iets daaruit haal wat hom of haar sal inspireer en ook sal laat glimlag. Ek dra die boek aan my pa op wat my en my broer se anker was. Hy is ongelukkig onlangs oorlede en ek sou so graag my boek vir hom in sy hande wou gee en net weer 'Dankie' sê.”
Vir meer inligting oor die boek Het ek genoeg gedoen? kontak Andries Marais by 082 458 9374.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’