CALITZDORP NUUS - Calitzdorp Kelder het die afgelope maand met ’n indrukwekkende reeks toekennings by drie gesogte wynkompetisies uitgeblink - die Michelangelo Internasionale Wyn- en Spiritustoekennings, die Veritas-toekennings en die 2025 Klein-Karoo Jongwynskou.
Die Calitzdorp Kelder Kaapse Vintage Besemkop 2023 het een van die hoogste eerbewyse losgeslaan deur die Nageregwyn Grand Prix-trofee te verower. Dié wyn het ook Silwer Uitstaande by die Veritas-toekennings ontvang.
Die Calitzdorp Kelder Wit Muskadel 2025 het goud by Michelangelo ontvang, asook Silwer Uitstaande by Veritas.
Verder het die Calitzdorp Kelder Merlot 2024 goud ingepalm by Michelangelo, terwyl dit by Veritas met silwer bekroon is.
Die Calitzdorp Chenin Blanc 2025 het ’n silwertoekenning by die Veritas-kompetisie verwerf.
By die Klein-Karoo Jongwynskou 2025 is Calitzdorp Kelder verder vereer met die titel Kampioen Muskadel Versterkte Wyn, sowel as die Reserwe- en Kampioen Natuurlike Soet Tafelwyn-toekennings.
Die kelder het die prestasies met groot trots ontvang en beskryf dit as ’n bewys van die streek se besondere terroir en hul wynmakers se toewyding aan gehalte.
Besoek gerus hul webtuiste by calitzdorpwine.co.za of skakel hulle by 044 213 3301.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’