OUDTSHOORN NUUS - Ná sewe en 'n half jaar se toegewyde diens tree sr. Colleen Fourie, hoof van Helen Bellinganhof-tehuis vir bejaardes, einde November uit haar pos. Sy laat 'n merkwaardige nalatenskap en groot skoene om vol te staan.
Dr. Michelle van Bommel het reeds op 1 November die leisels begin oorneem en sal teen einde van die maand volwaardig die rol as hoof beklee.
Fourie se grootste doel gedurende haar termyn was om die beeld van die tehuis te verbeter, iets wat sy met uitsonderlike sukses reggekry het.
"Ek het vir sewe en 'n half jaar vir Bellinganhof geleef. Dit was vir my belangrik dat die tehuis in bekwame hande gelaat word. Ek was skrikkerig om af te tree, want ek wou graag hê iemand met dieselfde passie vir ons inwoners moes oorneem. Ek het hard oor die saak gebid."
Volgens Fourie het Van Bommel se CV reeds 'n jaar gelede op haar tafel beland.
"Ek het eers gedink dit is 'n grap. Nie net het sy verskeie grade in verpleegkunde en opvoedkundige verpleegkunde nie, maar ook 'n meestersgraad daarin. Boonop het sy 'n doktorsgraad in filosofie!"
Van Bommel, wat voorheen onder andere ProCare se streekbestuurder was en verpleegsters by Emmanuel Verpleegskool opgelei het, het begin 2024 as aflossuster by Bellinganhof gewerk.
"Ek het hard gebid oor die saak," vertel sy. "Met die werk wat ek reeds by Bellinganhof gedoen het, het ek sommer geweet dít is waar ek hoort. Ek het toe my CV vir sr. Colleen gegee, en al die stukkies het perfek inmekaar gepas."
Volgens Van Bommel is haar doel om dieselfde kwaliteit diens te lewer as haar voorganger.
"Bellinganhof is vir 'n rede op my pad gesit en ek weet in my hart ek kan hier 'n verskil maak."
Hoewel Fourie aftree, is haar band met die tehuis allesbehalwe verby. Sy sal nog die tehuis se Kersfeesviering vanjaar behartig.
"Ek is beslis nie klaar met Bellinganhof nie," sê sy met 'n glimlag. "My hart lê nog hier. Ek sal Bellinganhof nooit net kan afskryf nie."
Fourie sien nou uit na 'n nuwe hoofstuk wat sy saam met haar man gaan geniet, met gemoedsrus dat die tehuis in uitstekende hande agterbly.
Lees ook:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’