OUDTSHOORN NUUS -Met Kersfees om die draai, 'n tyd wat gewoonlik met vreugde, familie en veiligheid geassosieer word, leef vier gesinne van Bridgton nou deur elke ouer se grootste nagmerrie: om skielik alles te verloor.
'n Verwoestende brand het Sondag 16 November in 12de Laan naby die Bridgton-sportterrein uitgebreek, waar vier informele strukture binne minute tot op die grond afgebrand het. Agt minderjarige kinders is onder dié wat hul huis en al hul besittings verloor het.
Volgens inligting wat bekom is, het die brand ontstaan nadat iemand op die erf 'n vuur gemaak het wat buite beheer geraak het. Die vlamme het vinnig versprei.
Monica Prins (31), 'n ma van vyf kinders, drie dogters van 6, 12 en 14 jaar oud en twee seuns onderskeidelik 5 en 10 jaar oud, beskryf die oomblik as iets wat sy nooit sal vergeet nie.
"Alles het baie vinnig gebeur. Ons het alles verloor, klere, beddegoed, die kinders se skoolbenodighede, selfs ons belangrike dokumente."
Nog twee gesinne wat swaar getref is, is Christy-Ann Plaatjies, ma van drie seuns van 6, 13 en 19 jaar oud en Jilldrey Jordaan, wat saam met haar 16-jarige dogter woon.
Volwassenes sonder kinders wat ook dakloos gelaat is, sluit in Marnezelle Rabie, Moira Hendricks, Christopher Jansen, Nombulilo Witbooi en Siphinskazi Tshukulwane, almal het slegs die klere aan hul lyf oor.
Volgens Prins het bure die gesinne betyds gewaarsku toe hulle die rook sien. "Gelukkig kon almal uitkom. Niemand is ernstig beseer nie behalwe 'n jongman wat gehelp het om die vuur te blus en op 'n geroeste spyker getrap het."
Die Oudtshoorn-brandweer was vinnig op die toneel en het die brand geblus voordat dit verder kon versprei.
Maandagoggend het die inwoners begin opruim. Munisipale amptenare was ook op die toneel.
Die erf behoort glo aan die munisi-paliteit, maar daar word beweer dat 'n inwoner in die omgewing die informele strukture op die erf uitverhuur het.
Met geen ander blyplek nie, het sommige gesinne reeds begin om nuwe strukture op dieselfde erf op te rig.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat geen strafregtelike klag tans ondersoek word nie.
Indien inwoners die families wil onder-steun kan Monica Prins geskakel word by 078 084 5604.
'n Media navraag oor die voorval is aan Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur, teen saktyd is geen terugvoer ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’