Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Die Valke se George-gebaseerde Eenheid vir Ernstige Handelsmisdaad het op 19 November ’n 64-jarige verdagte gedagvaar om op 12 Desember in die Oudtshoorn-landdroshof te verskyn.
Hy word aangekla van oortredings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (Wet 56 van 2003) en die Munisipale Stelselswet (Wet 32 van 2000).
Volgens lt.kol. Siyabulela Vukubi van die Valke was die verdagte glo tussen November 2021 en Januarie 2022 in diens van die Oudtshoorn-munisipaliteit, waar hy na bewering growwe nalatigheid gepleeg het deur te versuim om die munisipaliteit se finansiële administrasie behoorlik te bestuur.
“Die ondersoek het aan die lig gebring dat hy nie redelike stappe geneem het om te verseker dat onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes en/of verliese voorkom word nie,” het Vukubi gesê.
Die munisipaliteit het na bewering ’n verlies van R451 143 gely nadat die verdagte salarisverhogings vir amptenare binne sy kantoor goedgekeur het sonder om die munisipaliteit se vergoedingsbeleid na te kom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’