OUDTSHOORN NUUS - 'n Bekende en geliefde inwoner van Oudtshoorn, Diane de Jager (88) het Vrydagaand, 14 November, 'n spesiale toekenning vir lewenslange bydrae en diens aan die ACVV ontvang tydens 'n spesiale funksie by Buffelsdrift.
Diane is op 16 April 1937 in Seepunt, Kaapstad, gebore en is die oudste van vier dogters van George en Rita Michau.
Sy voltooi haar skoolloopbaan aan die Hoër Meisieskool Oudtshoorn waar sy matriek eerste in haar klas slaag. Daarna studeer sy aan die Opleidingskollege in Oudtshoorn, waar sy onder meer die gesogte Jagger-toekenning vir Engels ontvang het.As 'n talentvolle en veelsydige sportvrou het sy SWD-kleure in hokkie, atletiek en tennis verwerf, en was sy selfs tot in haar tagtigerjare 'n formidabele tennisspeler.
In 1958 tree sy in die huwelik met Arnoldus Johannes de Jager, 'n verbintenis wat gelei het tot buitengewone diens aan die plaaslike gemeenskap. Beide Diane en Arnold het die voorreg gehad om as burgemeesters van Oudtshoorn te dien, 'n unieke prestasie.
Na Arnold se dood het sy haar eie pad in die politiek voortgesit en as raadslid én burgemeester gedien, met onwrikbare toewyding aan die mense van Oudtshoorn.
Tog was haar hart nog altyd by die ACVV. Sedert 1958, meer as ses dekades het sy met liefde, lojaliteit en leierskap vrywillig diens gelewer. Sy is vandag die langsdienende ACVV-lid in die Wes-Kaap en 'n ware pilaar van geloof, diens, nederigheid en medemenslikheid.
Sy sluit in 1958 by die ACVV aan en loop sedertdien 'n merkwaardige pad van volgehoue diens en leierskap. Sy dien sedert 1970 as beheerraadslid van ACVV Helen Bellinganhof-versorgingsoord, waarvan sy sedert 1975 die voorsitter is. In 1980 word sy verkies as voorsitter van ACVV Oudtshoorn, 'n rol wat sy steeds, met dieselfde toewyding en vasberadenheid, vervul.
Verder dien sy as hoofbestuurslid van die ACVV op nasionale vlak vanaf 1988 tot 2010, 'n tydperk waarin sy strategiese en betekenisvolle bydraes tot die bevordering van die organisasie se missie en visie gelewer het.
Sy was ook voorsitter van die verpleegskool. Haar uitgestrekte betrokkenheid van meer as ses dekades maak haar 'n uitsonderlike en uiters waardige ontvanger van die toekenning.
"Wat haar so spesiaal maak, is nie net die indrukwekkende tydsduur van haar betrokkenheid nie, maar die feit dat sy tot vandag toe, op 88-jarige ouderdom, daagliks die takkantoor besoek en steeds aktief as vrywilliger diens lewer by al die vertakkings van ACVV Oudtshoorn.
Haar voorbeeld van onbaatsugtige diens, leierskap en volgehoue gemeenskapsbetrokkenheid is 'n inspirasie vir jonger vrywilligers en lede. Haar teenwoordigheid vorm 'n fondament waarop vertroue, stabiliteit en menswaardigheid gebou word," sê Riana Booysen, ACVV-bestuurder.
"Ons glo dat hierdie toekenning haar jare lange, toegewyde diens op waardige wyse erken. Sy is nie net 'n getroue dienaar van die ACVV nie, maar 'n lewende legende in diens van haar medemens. Vandag eer ons haar nie net vir wat sy doen nie, maar vir wie sy is: 'n vrou van geloof; 'n Pilaar van medemenslikheid; 'n voorbeeld vir elkeen wat glo in die krag van diens, 'n lewende bewys dat een mens, met 'n hart vol liefde, die wêreld kan verander."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’