CALITZDORP NUUS - Dit blyk dat die Calitzdorp-toerisme-kantoor einde November sy deure sal moet sluit.
Volgens Deon Kriek, voorsitter van Calitzdorp-toerisme, word die kantoor tans deur een persoon beman, en sy sal haar werk verloor indien die kantoor inderdaad sluit.
Kriek sê die kantoor sal waarskynlik in Desember en vir die grootste deel van Januarie gesluit wees.
Daniel Johnson, woordvoerder vir dr. Ivan Meyer, minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, sê hulle neem met kommer kennis van die aangekondigde sluiting.
"Hierdie ontwikkeling blyk verband te hou met die munisipaliteit se finansiële onsekerheid en die implementering van MFMA (Municipal Finance Management Act)-omsendbrief 131," verduidelik hy.
Hierdie omsendbrief, is deur die nasionale tesourie in Maart vanjaar uitgereik en verwys na Artikel 131 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA), wat vereis dat munisipale kwessies wat deur die ouditeur-generaal in 'n ouditverslag geopper word, aangespreek moet word.
"In hierdie geval kan ons nie direk ingryp nie. Visit Calitzdorp sal moontlik regsroetes moet oorweeg om fondse wat deur die munisipaliteit verskuldig is, te verhaal. Ons verstaan ook dat die munisipaliteit besluit het om nie vir die res van die finansiële jaar 'n tender vir toerismemarkdienste uit te reik nie," sê Johnson.
Hy voeg by dat die departement hul kommer uitgespreek het oor die potensiële impak van die omsendbrief en die risiko van ontwrigting van plaaslike toerisme net voor die somerseisoen.
"Hierdie kwessies is reeds aan die provinsiale tesourie en die nasionale departement van toerisme gekommunikeer. Die provinsiale tesourie het ook 'n forum ingestel om munisipaliteite te ondersteun met die oorgang na die nuwe voorsien-ingskettingprosesse wat die nasionale tesourie vereis."
Kriek beklemtoon dat die sluiting van die kantoor nie beteken dat die toerismekomitee sal ontbind nie.
"Ons sal steeds toerisme in Calitzdorp na die beste van ons vermoë bevorder. Ons nuusbrief verskyn steeds, en ons pamflette is by verskeie besighede soos restaurante en die museum beskikbaar. Hoewel ons toestemming het om die gebou te gebruik, kan ons nie die kantoor met ledegeld alleen aan die gang hou nie en was die munisipaliteit se bydrae van kardinale belang. Ons ondersoek tans ander opsies en kyk hoe ons vorentoe kan beweeg."
Die kantoor is geregistreer as 'n niewinsgewende organisasie.
Volgens Wouter Kriel, woordvoerder vir minister Anton Bredell, minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, is die departement bewus van die situasie.
"Dit is deur die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme en die munisipale bestuurder van Kannaland bevestig dat. Die munisipaliteit is onder finansiële herstel en word ondersteun deur die departement en provinsiale tesourie. Die munisipale bestuurder het aangedui dat hy in gesprek is met die toerismevoorsitter en word in hierdie verband deur die Tuinroete-distriksmunisipaliteit bygestaan."
Kannaland reageer
Volgens Hendrik Barnard, Kannaland se direkteur van korporatiewe dienste, het die munisipaliteit op 19 November 'n vergadering met Calitzdorp-toerisme gehad.
"Die vergadering was in die munisipale bestuurder se kantoor saam met Deon Kriek en Boets Nel. Verskeie voorstelle is bespreek, maar geen finale besluit is geneem nie."
Barnard sê die finansiële bydrae van Kannaland aan die buro's is ook bespreek en weens die munisipaliteit finansiële posisie, asook die feit dat hulle onder finansiële herstel is, sal die aangeleentheid na die kontantvloei-komitee verwys word.
"Hierdie vergadering is twee keer uitgestel vanwee die feit dat sleutelrolspelers nie beskikbaar was nie. 'n Vergadering sal op Vrydag 28 Novermber ter tafel gelê word. Die komitee bestaan uit provinsiale amptenare van provinsiale tesourie, die munisipaliteit en die departement plaaslike regering."
Barnard sê die munisipaliteit is verbind tot die voorsetting en oop hou van die Calitzdorp-toerismekantoor en hulle probeer om binne die beperkte hulpbronne die nodige ondersteuning te verleen, alhoewel die finansiële uitdaging hulle kortwiek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’