LADISMITH NUUS - 'n Verpleegster van Ladismith het Maandag 17 November in die landdroshof verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die klag spruit uit 'n voorval waarin die 72-jarige Elizabeth Matokasie vroeër vanjaar na bewering in die gange van die Alan Blyth-hospitaal gesleep is.
Matokasie het glo geval toe sy probeer opstaan het. Die verpleegster het haar op die vloer gevind en haar aan haar arm terug saal toe gesleep. Dit is toe haar vel geskeur het.
Haar dogters, Angeline Scheepers en Johanna Claassen, sê hulle was diep ontsteld toe hulle van die beweerde voorval hoor. Die familie is deur 'n medepasiënt vanuit die hospitaal ingelig.
Departement van gesondheid
Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid het die voorval destyds bevestig.
Sy het die departement se ontevredenheid uitgespreek en bevestig dat die betrokke personeellid onmiddellik huis toe gestuur is hangende verdere ondersoek.
Die verpleegster, wat in die hof deur prokureur Maarten Meyer verteenwoordig is, is gewaarsku om op 3 Desember weer in die hof te verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’