OUDTSHOORN NUUS - Die 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders het Dinsdagoggend, 25 November, in Oudtshoorn afgeskop met 'n massapatrollie by die Calitzdorp-ingang van Oudtshoorn.
Die veldtog duur tot 10 Desember en is 'n wêreldwye veldtog om geweld teen vroue en kinders teen te staan. Die veldtog het ten doel om bewustheid te verhoog van die negatiewe impak wat geweld en mishandeling op vroue en kinders het en dit te stop.
Regerings, internasionale organisasies, nie-regeringsorganisasies, burgerregte organisasies, organisasies wat op gods-
diens gebaseer is en individue werk saam gedurende hierdie tydperk om bewusmaking te skep oor geslags-gebaseerde geweld in hul gemeenskappe.
Verenigde Nasies
25 November is deur die Verenigde Nasies se algemene vergadering aangewys as Wêrelddag vir die beëindiging van geweld teen vroue, omdat dit die herdenking is van die moord op drie van die Mirabal-susters, wat politieke aktiviste in die Dominikaanse Republiek was.
Die veldtog kom op 10 Desember tot 'n einde, wat ook Internasionale Menseregtedag is.
Wêreldvigsdag op 1 Desember val ook binne die tydperk van die veldtog, wat gepas is aangesien vroue en kinders van die grootste slagoffers van die Vigs-pandemie is.
Mans moet aanspreeklikheid aanvaar
Tydens hierdie jaar se 16 dae van aktivisme-veldtog word daar 'n beroep gedoen op mans om aanspreeklikheid te aanvaar vir en 'n groter rol te speel in die voorkoming van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV).
Daar word gevra dat mans die leiding neem deur hul sterk uit te spreek teen GGGV, en gevalle daarvan aan te meld, om bewustheid te skep deur middel van portuurgroepopvoeding.
Geweld teen vroue en kinders is 'n ernstige probleem en poog die polisie om beslissend op te tree in gevalle van geweld teen vroue en kinders.
Vir hulp
Vir hulp en berading in gevalle van GGGV, skakel die GGG-bevelsentrum by 0800 428 428. Jy kan ook versoek dat 'n maatskaplike werker van die bevelsentrum jou skakel deur *120*7867# (gratis) vanaf enige selfoon te skakel.
n Rapporteer gevalle van GGGV by enige polisiestasie of skakel die tolvrye Stop Misdaad-nommer by 086 00 10111.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’