OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat mense daagliks slagoffers word van swendelaars wat voorgee dat hulle voertuie te koop aanbied of eiendomme verhuur. Oudtshoorn Courant het die afgelope week van verskeie mense verneem wat derduisende rande deur swendelstreke verloor het.
Een inwoner is R16 000 kwyt nadat sy 'n deposito op 'n bakkie betaal het wat nooit bestaan het nie en 'n ander inwoner het R18 000 verloor toe hy dit as 'n deposito betaal het op 'n woonplek in George wat ook nie bestaan nie.
Volgens eiendomsagente en motorhandelaars neem hierdie tipe skelmstreke toe en mense moet uiters versigtig wees voordat enige geld summier oorbetaal word.
Oudtshoorn Courant het by 'n motor-handelaar en 'n eiendomsagent kers opgesteek oor die moets en moenies waarop gelet moet word voordat enige transaksie aangegaan word.
Koop van voertuie
Jurgens Burger, wat reeds jare lank in die voertuighandel betrokke is, gee die volgende riglyne waarop ag geslaan moet word indien 'n gebruikte voertuig gekoop word:
- Moenie enige geld oorbetaal alvorens die voertuig besigtig is en daar vasgestel is dat die verkoper die wettige eienaar of 'n geregistreerde handelaar is nie
- Dring aan op 'n toetsrit en indien moontlik, 'n ondersoek van die voertuig deur 'n kundige persoon en kyk of daar 'n diensrekord is.
- Doen navraag oor die persoon of handelaar wat die voertuig adverteer. Swendelaars is uiters oortuigend.
- Wees versigtig as die prys van die voertuig na 'n winskopie lyk of as die verkoper op 'n deposito aandring nog voordat die voertuig besigtig kan word.
- Doen marknavorsing en vergelyk die pryse en kilometerlesings van ander soortgelyke voertuie.
- Mense dink dat dit goedkoper is om handelaars uit te sny, maar dit is dikwels beter om deur 'n erkende en gevestigde handelaar te werk, selfs om net navraag te doen en inligting te bevestig.
- Die goue reël is om weg te stap as enig-iets te goed klink om waar te wees, as die voertuig nie besigtig kan word nie en as daar op voorafbetaling aangedring word.
Huur van eiendomme
'n Eiendomsagent wat reeds 20 jaar by die verhuring en verkoop van eiendomme betrokke is, het die volgende belangrike punte genoem waarop voornemende huurders en kopers ag moet slaan:
- Maak seker die verhuurder of verkoper is die regmatige eienaar of agent. Bevestig die persoon se identiteit en adres.
- Stuur iemand om die eiendom te besoek as jy nie self daar kan uitkom nie om te bevestig dat dit wel bestaan en te huur is.
- Geen deposito word betaal voordat 'n wettige huur- of koopkontrak deur albei partye onderteken is nie.
- Laat 'n kundige eers na die kontrak kyk indien daar met die verhuurder of verkoper 'n ooreenkoms aangegaan word.
Die goue reël is om geen geld vooraf oor te betaal nie. Swendelaars se prioriteit is om so gou as moontlik soveel as moontlik geld uit 'n slagoffer te kry. Hulle weet huureiendom is skaars en probeer die huurder oortuig dat die eiendom uiters gesog is, en dat daar reeds groot belangstelling is en daarom moet 'n 'deposito' so gou as moontlik betaal word.
Gebruik eerder kundige agentskappe wat al die slaggate ken en vermy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’