OUDTSHOORN NUUS - Tydens hulle laaste vergadering van die jaar op Dinsdag 11 November het Volmoed-boerevereniging bestuursverkiesing gehou. Coetzee Laubscher is as voorsitter herkies. Die ander bestuurslede is Johan Serdyn, Gert Laubscher, Luhan Fourie, Francois van Rensburg, André Boltman, Matthys du Toit en John Fullard.
Tydens die vergadering het verteen-woordigers van die drie borge van die aand inligting met die boere gedeel en daar was ook insette van die polisie ten opsigte van landbouveiligheid en die belangrike rol wat kameras in die landbougebied speel.
Dié vereniging bestaan reeds 65 jaar en het 65 lede wat bestaan uit landbouers op plase vanaf Oudtshoorn tot Lategansvlei, Paardebont en tot voor Calitzdorp. Volgens Laubscher is boereverenigings belangrik vir skakeling tussen boere van verskillende areas. Die voorsitter en ondervoorsitter van elke boerevereniging in die streek dien op die bestuur van Klein Karoo Landbou wat op hulle beurt met Agri Wes-Kaap skakel.
"Behalwe dat ons as boerevereniging elke twee maande gesellig saam verkeer is ons vergaderings ook belangrike platforms om inligting van ons verskaffers te kry, insette oor veiligheid, water en ander gemeenskaplike sake te ontvang."
Vir hom is dit ook belangrik dat daar op georganiseerde wyse deur Klein Karoo Landbou met Agri Wes-Kaap skakeling is.
"Agri Wes-Kaap is ons mondstuk met organisasies soos Agri SA, Eskom, departement van arbeid en talle ander instellings wat 'n rol in landbou speel. Dit beteken elke boer hoef nie op sy eie te onderhandel nie."
Volgens Helen Butler, kantoorbestuurder van Klein Karoo Landbou, is daar tans vyf landbouverenigings wat deel is van Klein Karoo Landbou; Volmoed, Herold, Bo-Kammanassie, Uniondale en De Rust met Kango-valleie wat binnekort ook sal aansluit. (Oudtshoorn Courant beoog om gereeld met die verskillende landbouverenigings en -organisasies te skakel en landbounuus met die lesers te deel.
Enige landbouverwante aangeleenthede in die verspreidingsarea van die koerant kan aan Hannes Visser by 083 467 1522 of hannes@groupeditors.co.za deurgegee word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’