OUDTSHOORN NUUS - Dr. Franklin Sonn, gerespekteerde opvoedkundige, sakeman en kampvegter vir gelykheid, is op 15 November in die ouderdom van 86 oorlede.
Sonn, 'n Karooseun van Vosburg, wat as skoolkind ook 'n ruk in Oudtshoorn by familie gewoon het, was Suid-Afrika se eerste ambassadeur in die VSA na die verkiesing van 1994.
Hy het vertel dat Nelson Mandela hom destyds nie gevra het om ambassadeur te word nie, maar hom die opdrag gegee het.
Mandela het dit egter eers gedoen nadat hy Sonn se vrou, Joan, gebel het om te vra of sy daarmee geneë is om as ambassadeursvrou op te tree. Hierdie interessante stukkie inligting en vele ander uit Sonn se ryk geskiedenis en sy rol in die land se geskiedenis is opgeteken in sy outobiografie, Karooseun van Vosburg, wat hierdie jaar deur Protea uitgegee is. Hy was van 1994 tot 1999 Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA en het 'n geweldige bydrae gemaak om die land se beeld in die buiteland te herstel.
KKNK betreur afsterwe
Sonn was baie nou by die KKNK betrokke as voormalige voorsitter van die direksie van die KKNK en as beskermheer. Hy is in 2014 vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir diens aan die kunste. Sy seun, Crispin, was voorsitter van die KKNK-direksie van 2017 tot 2024.
Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, het hierdie week die dood van Sonn betreur en gesê: "Dr. Sonn, gebore in Vosburg in 1939, was 'n grootse figuur en het 'n belangrike rol in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel. Hy was 'n gerespekteerde onderwyser en opvoeder en het in verskeie rolle as onderwyser, skoolhoof en voorsitter van onderwysrade 'n belangrike rol in Suid-Afrikaanse onderwys gespeel.
"Hy was ook 'n aktivis en stryder wat nou saam met oudpres. Nelson Mandela en emeritus aartsbiskop Desmond Tutu gewerk het om die weg te baan vir demokrasie en menseregte. As dr. Sonn gepraat het, was dit altyd met passie - uit die hart en reguit. Hy het nie doekies omgedraai nie. Hy was 'n gereelde spreker by die KKNK en hy en sy vrou was getroue feesgangers."
Die huidig voorsitter van die KKNK-direksie, dr. Christo van Reede, het gesê: "Dr. Franklin Sonn sal veral vir sy sin vir reg en geregtigheid en sy betrokkenheid in die bevryding van Suid-Afrika onthou word. Hy het nie geskroom om standpunt in te neem en sy mening uit te spreek nie. Tot aan die einde het hy ook die huidige stand van Suid-Afrika onder die vergrootglas geplaas en het hy nie doekies omgedraai om korrupsie, armoede, werkloosheid en al die ander uitdagings wat ons as land ervaar, op die naam te noem nie."
Uitstekende leierskap op onderwys-en sakegebied
Sonn en sy vrou het op Fancourt gewoon, maar hulle was by hulle woonplek in Kaapstad toe hy oorlede is. Lank voordat hy as ambassadeur aangestel was, het Sonn bekendheid verwerf in die onderwyssisteem toe hy die destydse Skiereiland Tegnikon tydens sy termyn as rektor vanaf 1978 tot 1994 omskep het in die bekende Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Hy het twaalf ere-doktors-grade ontvang.
Sonn het op direksies van talle maatskappye gedien. Van die maatskappye was onder andere: Absa, Sappi, Steinhoff Internationaal, Pioneer Foods, Macsteel Holdings, MTN en Nedbank Hy was ook op 'n stadium die voorsitter van Acsa (Airports Company of South Africa) en African Star Ventures.
Vir sy bydrae tot onderwys en geregtigheid het hy die Orde van die Kremetart (silwer) en die Orde van die Disa ontvang. Vir sy aandeel aan buitelandse vrede het hy die Dr. Martin Luther King-toekenning ontvang.
Hy laat sy vrou, Joan, hulle kinders Crispin en Heather en hulle gesinne agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’