OUDTSHOORN NUUS - ’n 32-jarige man is in aanhouding nadat die polisie dwelms ter waarde van ongeveer R260 000 op die R62 tussen Ladismith en Barrydale gekonfiskeer het.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die beskuldigde op Woensdag 26 November in die Ladismith-landdroshof verskyn, waar sy saak uitgestel is.
Spies sê lede van die Ladismith-misdaadvoorkomingseenheid het Maandag 24 November omstreeks 19:00 op inligting gereageer oor ’n vermeende besending dwelms wat onderweg was.
“Die span, wat op daardie stadium van diens af was, het hul hulpbronne vinnig gemobiliseer en na die betrokke gebied beweeg. Op die R62 het hulle ’n Toyota Avanza opgemerk en tot stilstand gebring.
"Tydens ’n deeglike soektog is ’n rugsak in die besit van een van die passasiers gevind. Die polisie het daarin 432,8 gram kokaïen en 99 Mandrax-tablette ontdek. Die dwelms is gekonfiskeer en die verdagte is op ’n aanklag van dwelmhandel gearresteer.”
99 Mandrax-tablette is ook gekonfiskeer.
Volgens die voorlopige ondersoek was die voertuig glo vanaf Kaapstad op pad na Ladismith, waar die dwelms na bewering afgelewer sou word. Die beskuldigde bly in aanhouding en sal op 3 Desember terugkeer hof toe vir ’n formele borgtogaansoek.
Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die betrokkenheid en toewyding van die beamptes geloof, en sê hul optrede het moontlik verhinder dat die dwelms die gemeenskap bereik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’