Update
OUDTSHOORN NUUS - ’n Egpaar van Oudtshoorn en twee beslote koöperasies van die vrou, is in die Oudtshoorn-streekhof op 34 aanklagte van bedrog skuldig bevind en vonnisoplegging is tot 25 Februarie 2026 uitgestel.
Die hof het bevind dat Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse departement van landbou by die Oudtshoorn-proefplaas, sy vrou, Johanna Rabie, sowel as haar twee koöperasies, Attakwa en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 bevoordeel is met die toekenning van tenders ter waarde van miljoene rande.
Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak van byna drie ure, gesê Marthinus het die departement met wanvoorstellings bedrieg en dat daar sameswering tussen hom en sy vrou was om die twee beslote koöperasies te bevoordeel.
Hy het fisies gehelp met projekte volgens verskeie van die 45 getuies wat deur die staat geroep is. Uit die magdom getuienis voor die hof is bevind dat Marthinus ’n regsplig gehad het om aan sy werkgewer, die department van landbou, te openbaar dat die twee koöperasies aan sy vrou behoort. Hy het dit nie gedoen nie en selfs senior amptenare van die departement was aanvanklik nie bewus van die verwantskap tussen hom en die eienaar van die twee koöperasies nie. Hy het by meer as een geleentheid wanvoorstellings aan die departement gedoen dat projekte voltooi is terwyl dit nie die geval was nie, maar die departement het wel daarvoor betaal.
Die beskuldigdes het aanvanklik tereggestaan op 68 aanklagte van bedrog, alternatiewelik korrupsie, wat later verminder is tot 34.
Die hof het bevind dat die vermindering van klagtes die beskuldigdes geensins benadeel het nie en die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
Die saak is op versoek van die verdediging vir ’n korrektiewe verslag en vonnisverrigtinge tot 25 Februarie 2026 uitgestel en die egpaar is uit op waarskuwing.
Adv. Nodada Gantolo, van die Batebeslagleggingseenheid van die polisie, het na die skuldigbevinding die hof meegedeel dat sy ’n aansoek gaan bring vir ’n hofbevel dat die beskuldigdes die geld terug betaal wat hulle gemaak het deur die pleging van die misdade, en, indien hulle dit nie doen nie, die staat aansoek sal doen dat hul bates verkoop word, om die geld terug te kry wat hulle van die staat gesteel het.
Die datum vir die aansoek is 19 Mei 2026.
Hyron Goulding was die aanklaer in die lang uitgerekte verhoor wat in 2016 begin het, en ao. JP Kennedy die ondersoekbeampte.
Adv. Henry van Breda het namens die beskuldigdes opgetree.
Vorige artikels:
- Bedrogsaak teen Rabie-egpaar in pylvlak
- Egpaar begin getuig in bedrogsaak
- Bedrogsaak teen Rabie-egpaar duur voort
- Hofbevel vir beslaglegging op egpaar se bates
- Egpaar bedrogsaak duur voort
- Bedrogsaak teen egpaar uitgestel na 2017
- Egpaar weer in Junie voor hof
- Egpaar in hof: Bedrog van R2.8 miljoen
- Bedrogsaak van egpaar uitgestel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’