Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die vier verdagtes wat vir die moord op Justin Booysen (30) in 2019 aangekla word, is verlede Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof hervat.
Dít nadat die saak uitgestel is omdat een van die regsverteenwoordigers weens ongesteldheid nie die hofverrigtinge kon bywoon nie.
Die Oudthoorn Courant het verlede jaar berig dat Simphiwe Ndoni (33), Ephrahim Malgas, ook bekend as Speekbout (43), Breyton Bruiners (25) en Lorenzo Malgas (26), tereg staan op aanklagte van moord, poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en onwettige besit van 'n vuurwapen, terwyl Ephrahim ook aangekla word van sameswering om moord te pleeg op Booysen.
Jessy Dyssel, wat die aand van 16 November 2019 saam met Booysen by Ghandi's Tavern was en die verdagtes daar raakgeloop het, is Dinsdag deur die regsverteenwoordiger van Bruiners, Clayton Sampson, onder kruisverhoor geneem.
Dyssel het volstaan met sy getuienes dat Malgas by Ghandi's Tavern vir Booysen eenkant toe geroep het en met hom gepraat het.
Hy kon egter nie die hele gesprek tussen hulle hoor nie, behalwe dat Booysen aan Malgas gesê het dat hy hom respekteer en baie van hom geleer het.
Na die gesprek het Dyssel en Booysen na Booysen se woning vertrek.
Dyssel sê Booysen het vinniger as gewoontlik gery en baie gespanne en bang voorgekom.
Volgens Sampson sal Bruiners ontken dat hy die betrokke aand op die oorledene se erf was.
Bruiners sal getuig dat hulle saam met Malgas se meisie huis toe gestap het, waarna Bruiners toe aangestap het na die woning van sy meisie, waar hy tot omstreeks 03:30 die oggend was.
Bruiners het eers die volgende dag gehoor dat Booysen doodgeskiet is.
Dyssel hou egter vol dat die vier beskuldigdes saam by die erf van Booysen aangekom en ingestorm het en dat hulle die twee hekwagte onder 'n afdak ingejaag en aangerand het.
Ndoni het toe met die vuurwapen in sy hand na die voordeur van Booysen se huis geloop en hom doodgeskiet.
Op 'n vraag van adv. Benito Metembo, wat vir Malgas optree, oor waarom hulle nie die twee hekwagte te hulp gesnel het nie, het Dyssel geantwoord: "Dis dan gevaarlike mense dié. Ons was bang gewees, ek en Justin."
Die saak dien voor streeklanddros Kenneth Peters. Mervin Saaiman is die aanklaer.
Wenzel Botha het in opdrag van die regshulpraad, namens Ndoni en Ephrahim Malgas, verskyn. Adv. Benito Metembo verskyn vir Lorenzo Malgas en Clayton Sampson vir Bruiners.
Die saak was vir drie dae op die hofrol, maar is na 4 Julie uitgestel.Die oorledene, Justin Booysen. Foto: Liezl van Niekerk
Lees vorige artikels:
- Moordsaak tot 2022 uitgestel
- Rosebank-moordsaak weer uitgestel
- Verhoordatums vir Rosebank-moordsaak
- Rosebank-skietsaak: Verhoor in April
- Rosebank-moordsaak weer uitgestel
- Booysen-skietsaak uitgestel
- Moordverdagte in hof aanranding betrokke
- Borgtog vir tweede verdagte
- Booysen-moordsaak uitgestel
- Een in Booysen-moordsaak kry borgtog
- Honderde by Justin se begrafnis
- Verdagtes in Justin Booysen-Moordsaak wil nie borg hê
- Borgtogaansoek uitgestel
- Vier verdagtes vas na moord
- Vierde verdagte vas na moord
- Moordsaak vir borgtog uitgestel
- Moordverdagtes Môre voor
- Jong man doodgeskiet
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'