Update
OUDTSHOORN NUUS - Honderde mense het Saterdag die Navada-gemeenskapsaal in Bongolethu volgepak vir die begrafnis van Justin Booysen (30) wat op 17 November in sy huis in Bella Rosasingel, Rosebank doodgeskiet is.
Booysen is deur sy een van sy susters, Lollita Saptou, in 'n huldeblyk beskryf as 'n vaderfiguur in haar lewe en die mees respekvolle mens wat sy ooit geken het.
Volgens Saptou was haar broer baie streng met haar, maar nooit onredelik nie en is sy vandag nie spyt daaroor nie. Sy dood is vir haar die grootste onreg wat iemand haar ooit kon aandoen. Sy het haar broer as 'n liefdevolle mens beskryf en dat hy nie verdien het om so wreed te sterf nie.
Nog 'n familielid, Thesmine Booysen, het in haar huldeblyk 'n beroep op begrafnisgangers gedoen weer introspeksie van hul lewens te neem.
Volgens haar glo sy nie dat Booysen se dood die wil van God was nie.
"God laat sekere dinge toe om te gebeur, maar die skietdood van Justin was nie Sy wil nie." Volgens haar het Justin se wrede dood, so kort na sy broer, Dueron, se dood, almal geruk.
Al vier verdagtes in Booysen se moordsaak, Ebrahim Malgas, Breyton Bruiners, Simphiwe Ndlani en Lorenzo Malgas, het Vrydagoggend in die Oudtshoorn-landdroshof aangedui dat hulle hul borgtogaansoeke laat vaar.
Die vier verdagtes staan tereg op aanklag van moord sowel as aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Hulle het egter Maandag weer in die hof verskyn.
Clayton Samson het Maandag aangedui dat hy voortaan as Bruiners se regsverteenwoordiger gaan optree. Ebrahim, Simphiwe en Malgas het om regshulp aansoek gedoen en word deur Brian Carelse verteenwoordig.
Die saak is na 16 Januarie 2020 vir verdere ondersoek uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Verdagtes in Justin Booysen-Moordsaak wil nie borg hê
- Borgtogaansoek uitgestel
- Vier verdagtes vas na moord
- Vierde verdagte vas na moord
- Moordsaak vir borgtog uitgestel
- Moordverdagtes Môre voor
- Jong man doodgeskiet
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'