Update
OUDTSHOORN - Die saak teen die vier verdagtes van Rosebank wat van moord op Justin Booysen (30) in 2019, en nog ander sake aangekla word, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere verhoor tot volgende jaar uitgestel.
Simphiwe Ndoni (33), Ephrahim Malgas, ook bekend as Speekbout (43), Breyton Bruiners (25) en Lorenzo Malgas (26), staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en onwettige besit van 'n vuurwapen terwyl Ephrahim ook aangekla word van sameswering om moord te pleeg.
Die eerste staatsgetuie, Jessy Dyssel, het Donderdag tydens kruisondervraging van Ndoni en Ephrahim se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, getuig dat hy en die oorledene laataand op 16 November 2019 by Ghandi's Tavern ingegaan het. Die vier verdagtes was ook binne die kuierplek.
Toe hulle kort voor toemaaktyd buite die kuierplek was, het Ephrahim vir Booysen eenkant toe geroep en met hom gepraat.
"Ek kon nie alles hoor wat hulle gepraat het nie, maar kon tog hoor hoe die oorledene vir Ephrahim sê dat hy baie respek vir hom het en nie teen hom sal opstaan nie," het Dyssel getuig.
"Toe ons ry het Justin baie vinnig gery en ek kon opmerk dat hy baie benoud en bang was."
Dyssel het ontken dat Justin die beskuldigdes binne Ghandi's Tavern na sy huis, wat as Stasie Ses bekendstaan genooi het en hy hulle "'n lekker tyd sou gee".
Die beskuldigdes het by Booysen se huis opgedaag waar Ndoni glo vir Booysen doodgeskiet het.
Dyssel het Botha se stelling, dat hy die verkoper van die drank en dwelms by Stasie Ses was, ontken en gesê "ander mense" het dit gedoen. Volgens Botha sal Ndoni getuig dat die vuurwapen, wat nooit gevind is nie, in Dyssel se hande was toe die skoot wat Booysen getref het afgegaan het. Ook die tweede skoot is deur Dyssel afgevuur.
Volgens Botha is dit duidelik dat Dyssel en Booysen beplan het om die vier verdagtes in 'n hinderlaag te lei en dat Dyssel se getuienis alles leuens is.
"Indien hulle nie genooi was nie waarom sou Justin die hek van Stasie Ses oophou terwyl dit altyd toegehou word en daar wagte is wat mense deursoek en deurlaat?" wou hy van die getuie weet.
Dyssel het volstaan met sy getuienis dat Booysen besig was om die huis se deur toe te druk toe Ndoni van die garage se kant gekom en hom geskiet het.
Streeklanddros Kenneth Peters het die saak as gevolg van beurtkrag vir drie dae se verdere verhoor, van 19 tot 22 April 2022, uitgestel.
Mervyn Saayman is die aanklaer in die saak. Wenzel Botha van die Regshulpraad verteenwoordig Ndoni en Ephrahim, Clayton Sampson vir Breyton Bruiners en adv. Benito Metembo vir Lorenzo Malgas.
Lees vorige artikels:
- Rosebank-moordsaak weer uitgestel
- Verhoordatums vir Rosebank-moordsaak
- Rosebank-skietsaak: Verhoor in April
- Rosebank-moordsaak weer uitgestel
- Booysen-skietsaak uitgestel
- Moordverdagte in hof aanranding betrokke
- Borgtog vir tweede verdagte
- Booysen-moordsaak uitgestel
- Een in Booysen-moordsaak kry borgtog
- Honderde by Justin se begrafnis
- Verdagtes in Justin Booysen-Moordsaak wil nie borg hê
- Borgtogaansoek uitgestel
- Vier verdagtes vas na moord
- Vierde verdagte vas na moord
- Moordsaak vir borgtog uitgestel
- Moordverdagtes Môre voor
- Jong man doodgeskiet
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'