Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van die vier verdagtes wat van die moord op Justin Booysen in 2019 aangekla word, is verlede Maandag in die Oudtshoorn-streekhof tot Oktober uitgestel na die getuienis van 'n tweede staatsgetuie.
Die staatsaanklaer is net vir die eerste dag van die drie dae waarvoor die saak op die hofrol was, beskikbaar.
Simphiwe Ndoni (32), Ephrahim Malgas (42), Breyton Bruiners (24) en Lorenzo Malgas (25) staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, aanranding om ernstig te beseer en onwettige besit van 'n vuurwapen terwyl Ephrahim Malgas, ook aangekla word van sameswering om moord te pleeg.
Die tweede staatsgetuie, Jacobus Stols, het Maandag getuig dat hy wel die aand van 16 November 2019 in die oorledene se huis was en dat Jessy Dyssel, wat saam met die oorledene by die huis aangekom het, 'n fout gemaak het deur te sê dat hy nie daardié aand daar was nie.
"Justin het bier verkoop en ek het saam met sy meisie, Malaike Gysman, in die sitkamer gesit en bier drink," het Stols getuig. Volgens hom het iemand by die agterdeur ingehardloop gekom en geskree: "Hey, hier's daai mense!"
Hy het Booysen gehelp om die voordeur toe te druk en toe 'n skoot gehoor waarna Booysen agteroor geval het. Gysman het vir 'n handdoek gevra om die bloed te stop en hy het sy T-hemp uitgetrek.
Hy het egter nie een van die beskuldigdes gesien nie.
Dyssel het onder kruisverhoor deur adv. Benito Metembo (vir Lorenzo Malgas) getuig dat dit hy was wat Booysen gehelp het om die deur toe te druk en gesien het dat dit Ndoni was wat die skoot afgevuur het. Hy het volgehou dat hy die vier beskuldigdes by Stasie Ses, die woning van Booysen, sien aankom het en twee hekwagte gejaag het.
Hy het egter nie self gesien of hulle die twee mans aangerand het nie.
Streeklanddros Kenneth Peters, het die saak vir die kruisondervraging van Stols tot 5 Oktober uitgestel omdat die staatsaanklaer Dinsdag 'n operasie moes ondergaan. Die saak was vir drie dae, van 4 tot 6 Julie op die hofrol.
Ndoni en Ephrahim Malgas dien tans vonnisse vir handeldryf in dwelms uit terwyl Bruiners en Lorenzo Malgas op borgtog uit is.
Die saak is vir drie dae se verdere verhoor, van 5 tot 7 Oktober, uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Rosebank skietsaak hervat
- Moordsaak tot 2022 uitgestel
- Rosebank-moordsaak weer uitgestel
- Verhoordatums vir Rosebank-moordsaak
- Rosebank-skietsaak: Verhoor in April
- Rosebank-moordsaak weer uitgestel
- Booysen-skietsaak uitgestel
- Moordverdagte in hof aanranding betrokke
- Borgtog vir tweede verdagte
- Booysen-moordsaak uitgestel
- Een in Booysen-moordsaak kry borgtog
- Honderde by Justin se begrafnis
- Verdagtes in Justin Booysen-Moordsaak wil nie borg hê
- Borgtogaansoek uitgestel
- Vier verdagtes vas na moord
- Vierde verdagte vas na moord
- Moordsaak vir borgtog uitgestel
- Moordverdagtes Môre voor
- Jong man doodgeskiet
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'