Update
OUDTSHOORN NUUS - “Dankie Here.” So het die ma van PJ ‘Pokkels’ Sauls, Vrydagoggend hardop in die hof gesê nadat die vrou wat verantwoordelik was vir haar seun se dood, tronkstraf opgelê is.
Die 42-jarige Samantha Meyer was op 8 November 2024 op die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat in Oudtshoorn met haar Audi in ’n botsing met die Volkswagen Golf van die 24-jarige Sauls betrokke. Sauls het op die toneel aan sy beserings beswyk.
Meyer is Vrydag 22 Mei in die Oudtshoorn-streekhof ingevolge Art 276 (1) (i) van die Strafproseswet tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis asook ’n verdere ses jaar wat vir vyf jaar opgeskort is. Haar rybewys is ook vir twee jaar opgeskort.
Meyer het skuldig gepleit op die aanklagte van strafbare manslag, dronkbestuur en nalatige bestuur.
Sauls was ’n onderwyser aan die Laerskool PJ Badenhorst in Dysselsdorp. Sy motor het na die botsing aan die brand geslaan en hy is deur twee verbygangers uit die brandende voertuig gehaal. Hy is egter kort daarna op die toneel deur paramedici dood verklaar.
’n Maatskaplike werker het in ’n voorvonnisverslag aanbeveel dat tronkstraf die enigste gepaste vonnis vir Meyer sal wees omdat sy aan ernstige misdade skuldig bevind is.
Sauls was verloof en die pa van ’n vyfjarige kind.
Meyer se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, het die hof versoek om haar ’n opgeskorte vonnis of ’n korrektiewe vonnis op te lê omdat sy vir die kind van haar oorlede broer sorg en ook omsien na haar bejaarde moeder.
Sy het ’n vaste werk as verpleegster by die George-hospitaal. Hy het die hof ook versoek om nie Meyer se rybewys in te trek nie omdat sy op ongereelde tye na George moet reis.
Die hof het by monde van die staatsaanklaer, Hyron Goulding, gehoor dat Meyer die betrokke dag rooiwyn gedrink het en laatmiddag na KFC gery het om iets te gaan koop om te eet. Met haar terugkeer het sy teen ’n spoed van 150 km/h, byna drie keer vinniger as die spoedbeperking, gery.
Goulding het dit beskryf as ’n “erge graad van nalatigheid”.
Volgens hom kon sy van ander vervoer gebruik gemaak het en ’n vonnis van tussen ses en agt jaar gevangenisstraf aanbeveel.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê Meyer het nooit persoonlik die familie van die oorledene om verskoning gevra en ’n flou verskoning gegee waarom sy dit nie gedoen het nie. Haar regsverteenwoordiger het dit wel namens haar gedoen.
Die hof het bevind dat ’n algehele opgeskorte vonnis ’n verkeerde boodskap sal uitstuur en Meyer op die klagte van strafbare manslag ingevolge Art 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat beteken dat sy na die uitdiening van ’n sesde daarvan (tien maande) om parool aansoek kan doen.
Die aanklagte van bestuur onder die invloed van alkohol en nalatige bestuur is deur die hof saamgeneem vir ’n vonnis van ses jaar gevangenisstraf wat in geheel, voorwaardelik, vir vyf jaar opgeskort is.
Die familie van die oorledene het na die saak aan Oudtshoorn Courant gesê dat hulle tevrede is met die vonnis. Veral omdat Meyer ’n tyd lank agter tralies sal moet deurbring en haar rybewys opgeskort is. Hulle het ook aangedui dat hulle ’n aansoek om parool sal teenstaan.
Vorige berigte:
- PJ Sauls-ongeluk: Meyer skuldig aan drie klagtes
- Meyer gaan wel van strafbare mansslag aangekla word
- Sauls-familie woendend oor onregverdige hofbesluit
- Saak van strafbare manslag teen bestuurder teruggetrek
- Familie van PJ Sauls kwaad vir hof
- Samantha Meyer-saak vir streekhof uitgestel
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’