Update
OUDTSHOORN NUUS - Groot verwarring het ontstaan na die hof op 10 Junie aangehoor het dat die klag van strafbare manslag teen Samantha Meyer teruggetrek is.
Meyer was die bestuurder van die voertuig wat op 8 November 2024 by die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat in ’n botsing met die voertuig van die jong onderwyser, Peter-John Sauls, betrokke was. Sauls is kort ná die ongeluk op die toneel oorlede.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het egter vandag, 25 Junie, bevestig dat die aanklaer wel besluit het om Meyer van strafbare manslag aan te kla.
“Sy word aangekla vir die bestuur onder die invloed van alkohol, roekelose en nalatige bestuur en strafbare manslag,” het hy gesê.
Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat die nuus dat die klag teen Meyer teruggetrek word selfs as ’n skok vir die Sauls-familie gekom het aangesien hulle nooit van die besluit ingelig is nie. Ntabazalila het toe gesê dat hulle nie seker is waar dit vandaan kom dat die klag van strafbare manslag teen die beskuldigde teruggetrek is nie.
Die saak vir drie dae se verhoor, is van 7 tot 9 Julie, uitgestel.
Vorige berigte:
- Sauls-familie woendend oor onregverdige hofbesluit
- Saak van strafbare manslag teen bestuurder teruggetrek
- Familie van PJ Sauls kwaad vir hof
- Samantha Meyer-saak vir streekhof uitgestel
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’