Update
OUDTSHOORN NUUS - Die familie van die onge-lukslagoffer, PJ 'Pokkels' Sauls, is ontstoke omdat hulle verlede week verniet by die hof was om die saak teen Samantha Meyer aan te hoor.
Die saak is op 7 April tot 7 Mei uitgestel, maar ingetrek tot Maandag 5 Mei.
"Die familie is nie hieroor ingelig nie," sê Roberto Botha, oudste broer van die oorledene.
Botha sê omdat hulle nie op Maandag 5 Mei by die hof was nie, dui dit daarop dat hulle nie in hul broer se saak belangstel nie.
Volgens hom wil dit voorkom asof die beskuldigde spesiale behandeling van die hof kry en die familie van die oorledene geminag word.
"Dis onverskoonbaar," het 'n omgekrapte Botha gesê.
"My ma is in 'n rolstoel, maar sy wou by die hof wees."
Hooflanddros Ryana van Harte, het die familie genooi om hom oor die aangeleentheid te kom spreek en gesê dat hy nie daarvan bewus was nie, maar dit beslis sal ondersoek.
Die saak teen die beskuldigde, Samantha Meyer, is vir 'n streekhof-beslissing tot 29 Mei uitgestel.
Meyer was die bestuurder van 'n Audi A4 wat die aand van 8 November 2024 op die hoek van Voortrekkerweg en Randstraat met die Volkswagen Golf van PJ Sauls, 'n onderwyser aan PJ Badenhorst Primêr in Dysselsdorp gebots het.
Sauls is uit die wrak van sy motor gehaal nadat dit aan die brand geslaan het.
Hy is later op die toneel dood verklaar.
Vorige artikels:
- Samantha Meyer-saak vir streekhof uitgestel
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’