OUDTSHOORN NUUS - Toe hy nie die deur kon oopkry om die bestuurder van die Volkswagen Golf uit sy brandende motor te haal nie, het hy die windskerm oopgetrap.
Só vertel evangelis Gollie Samson, wat Vrydagaand, 8 November, van die eerstes op die toneel van die gru-ongeluk op die hoek van Voortrekkerweg en Randstraat was.
Die botsing tussen 'n Audi A3 en 'n Volkswagen Golf het die lewe van die 24-jarige Peter-John (PJ) Sauls geëis.
"Ek en my kleinkind het in Jubileestraat afgestap toe ek 'n geweldige slag hoor. Ek het na die toneel gehardloop en die Volkswagen sien brand.
"Ek kon nie die ruit afkry nie en die hitte van die brand en die vlamme het dit ook moeilik gemaak om hom vinniger uit te kry. Ek het toe die windskerm uitgetrap en probeer om hom agter die stuurwiel uit te haal, maar het gesukkel want sy voete het vasgesit.
"Die motor het al erger gebrand, maar danksy nog 'n man wat opgedaag het, het ons hom uitgekry voordat die vlamme hom kon bereik, en het ons hom oor die pad gedra," vertel Samson.
Volgens Samson het Sauls 'n ernstige kopwond gehad en was daar geweldig baie bloed.
"Ek het alles probeer om die bloeding te keer terwyl iemand die ambulans geskakel het. Dit het 'n tydjie geduur voordat die ambulans opgedaag het en die bestuurder is kort na hul aankoms dood verklaar. Hy het in my hande gesterf. Dit was baie tragies om dit so te aanskou."
Broer na toneel geroep
Sauls se broer, Roberto Botha, vertel dat hul ander broer, Shedwick, wat 'n provinsiale verkeersbeampte is, na die toneel geroep is om met 'n ongeluk te help.
"Toe hy daar aankom moes hy uitvind dit is ons boetie wat daar lê. Hy vat dit baie swaar. Sy dood is vir ons 'n massiewe skok."
Botha vertel dat Samson op die toneel vir PJ gebid het.
"Hy het saam met die pastoor 'Amen' gesê. Dit was sy laaste woorde voor hy oorlede is."
Omstanders op die toneel het Vrydagaand dié hartverskeurende toneel dopgehou terwyl paramedici gespook het om PJ te behandel en familie hoopvol soos 'n laer rondom hom gestaan het.
Aan die ander kant van die pad was die Audi A3 waarin twee insittendes was. Na PJ oorlede is het paramedici die insittendes van die Audi behandel en met hulle na die hospitaal gejaag.
Die aard van hul beserings is nie duidelik nie, maar die polisie het bevestig dat die bestuurder, 'n 40-jarige vrou, op 'n klag van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol in hegtenis geneem is. Sy moet op 22 Januarie in die hof verskyn.
Botha beskryf sy broer as "die lewe van hul huis."
"Hy was geliefd deur almal. Hy het geleef vir sy gesin en familie. Hy was vir agt jaar verloof aan Kayla by wie hy ook 'n vierjarige dogtertjie, Kiané, het. Hulle was skoolliefdes. Sy is besig met haar laaste jaar van onderwysstudies maar het besluit om van die huis af te studeer. Sy het my vertel hoe dankbaar sy was oor dié besluit en dat hulle die laaste jaar saam as gesin kon wees."
Onderwyser
PJ was 'n onderwyser by PJ Badenhorst Primêr in Dysselsdorp en het Vrydag 'n funksie van 'n personeellid bygewoon wat afgetree het.
"Hy was nie eens 'n drinker nie. Hy was so rustig."
Botha sê PJ was ook 'n speler van All Blacks-rugbyklub en is deur die klub aangewys as die Speler van die Jaar.
PJ se vriende en familie het net met lof van hom gepraat tydens die roudiens wat Dinsdagaand vir hom gehou is. Sy pa, David, het met heimwee gepraat oor sy seun op wie hy so trots was.
PJ laat sy twee broers, Roberto en Shedwick, sy pa en ma, David en Rosie, sy verloofde Kayla en dogtertjie Kiané agter.
Daar sal vandag (Donderdag, 14 November) om 17:00 'n kranslegging wees op die toneel waar die ongeluk gebeur het.
Hy sal Saterdag ter ruste gelê word.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’