OUDTSHOORN NUUS - Die nuus verlede week dat die klag van strafbare manslag teen Samantha Meyer deur die staat teruggetrek is, het wyd reaksie gelok.
Meyer was die bestuurder van die voertuig wat op 8 November 2024 by die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat in 'n botsing met die voertuig van die jong onderwyser, Peter-John (PJ) Sauls, betrokke was. Sauls is op die toneel dood.
Sy is aangekla van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol, maar die staatsaanklaer het verlede Woensdag, 11 Junie, die klag van strafbare manslag teruggetrek. Geen redes is in die hof hiervoor gegee nie.
Sy word nou slegs op aanklag van bestuur onder die invloed van alkohol aangekla.
Luidens 'n verklaring wat deur die Sauls-familie uitgereik is, veroordeel hulle ten sterkste die onregverdige terugtrekking van die klag. Volgens die verklaring was daar geen deursigtige regverdiging of konsultasie oor die besluit nie en wek dit groot kommer oor die integriteit van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se besluitnemingsproses.
Nasionale vervolgingsgesag (NVG)
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die (NVG), het gesê dat hulle nie seker is waar dit vandaan kom dat die klag van strafbare manslag teen die beskuldigde teruggetrek is nie. "Daardie besluit is nog nie geneem nie. Die senior staatsaanklaer is besig om die bewyse te bestudeer en 'n besluit sal geneem word of sy van strafbare manslag aangekla sal word of nie. Die klag van bestuur onder die invloed duur voort voor die hof. Die besluit om so 'n aanklag terug te trek, is nog nie geneem nie."
Die saak is vir verhoor van 7 tot 9 Julie, uitgestel.
Vorige berigte:
- Saak van strafbare manslag teen bestuurder teruggetrek
- Familie van PJ Sauls kwaad vir hof
- Samantha Meyer-saak vir streekhof uitgestel
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’