Update
OUDTSHOORN NUUS - Die klag van strafbare manslag teen Samantha Meyer (40), die bestuurder van die voertuig wat op 8 November 2024 by die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat in ’n botsing met die voertuig van die jong onderwyser, Peter-John Sauls, betrokke was, is Dinsdag deur die Staat in die Oudtshoorn-landdroshof teruggetrek.
Sauls is kort ná die ongeluk op die toneel oorlede.
Die staatsaanklaer, Leandrie Visagie, het die hof meegedeel dat die seniorstaatsaanklaer beslis het om die klagte van strafbare manslag teen Meyer terug te trek. Geen redes vir dié beslissing is in die hof gegee nie.
Die gevolg is dat Meyer nou net teregstaan op die tweede aanklagte van bestuur onder die invloed van alkohol.
Die 24-jarige Sauls, pa van ’n vyfjarige kleuter, was ’n onderwyser aan die PJ Badenhorst Primêre Skool in Dysselsdorp. Hy is ná die botsing deur twee verbygangers uit sy brandende Volkswagen Golf gehaal.
Landdros Zuastrid Deyce het die saak Dinsdag vir drie dae se verhoor, van 7 tot 9 Julie, uitgestel.
Meyer is op waarskuwing en word deur Bulelani Bans van Knysna verteenwoordig.
Vorige berigte:
- Familie van PJ Sauls kwaad vir hof
- Samantha Meyer-saak vir streekhof uitgestel
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’