OUDTSHOORN NUUS - Die aanstelling van die DA se Klaas Booysen as voorsitter van Oudtshoorn se Munisipale Openbare Rekeningekomitee (MPAC) het Dinsdag 24 November teenkanting van die ANC ontlok, met kommer dat die regerende koalisie se betrokkenheid by die komitee se leiding onafhanklike toesig oor die munisipaliteit kan bemoeilik.
Die MPAC speel 'n belangrike toesighoudende rol en is verantwoordelik vir die ondersoek en monitering van die munisipaliteit se finansies, prestasie en bestuur.
ANC-raadslid Zoe Tyatya het tydens Dinsdag se raadsvergadering aangevoer dat dit nie bevorderlik vir deursigtigheid is wanneer 'n lid van die regerende koalisie as voorsitter aangestel word van 'n komitee wat juis toesig oor die munisipaliteit moet hou nie.
Hy het ook daarop gewys dat die opposisie tydens die vorige termyn kapsie aangeteken het toe die regerende party dieselfde besluit geneem het.
Sharon van Rooyen (ANC) het voorgestel dat Angeline Lekay van die Bridgton Civic Association eerder as voorsitter aangestel word. Booysen is egter in die pos aangestel.
Die ander lede van die nuwe MPAC is Werner Meyer (DA), Christo Vermaak (VF Plus), Van Rooyen en Lekay.
Nuwe burgemeesterskomitee aangestel
Oudtshoorn se nuwe raadslede is op Vrydag 20 November op 'n raadsvergadering ingehuldig.
Die nuwe burgemeesterskomitee bestaan uit Vlancio Donson (Icosa), voorsitter van finansies; Anél Berry (DA), korporatiewe dienste; Andrew Kühn (DA), infrastruktuur; Fielies September (DA), gemeenskapsdienste; en Hetta Pretorius (VF Plus), beplanning en ontwikkeling.
Jerome Lambaatjeen en Johan Fourie, albei van die DA, is Vrydag onderskeidelik as burgemeester en onderburgemeester verkies, terwyl Johan Allers van die VF Plus as speaker aangewys is.
Ander kwessies ter sprake
Die vergadering is Dinsdag 24 November voortgesit om die oorblywende agendapunte af te handel. Verskeie plaaslike kwessies is ook geopper.
Leon Campher van Advieskantoor het gevra dat die straatligte langs die De Rust-pad, verby die begraafplaas, aandag kry. Lekay het op haar beurt kommer uitgespreek oor die oop begraafplaas.
'n Voorgestelde bespreking oor die advertering van die pos van direkteur van korporatiewe dienste is uitgestel sodat die nuwe raadslede eers die geleentheid kon kry om hulself van die bestaande situasie te vergewis.
Die nuwe raadslede se salarisse is ook tydens die vergadering goedgekeur.
Burgemeester beloof deursigtigheid en aanspreeklikheid
In sy eerste toespraak as burgemeester het Lambaatjeen beklemtoon dat die nuwe raad se belangrikste verantwoordelikheid is om die inwoners van die groter Oudtshoorn te dien.
Hy het sy koalisievennote, die VF Plus en Icosa, bedank en gesê die nuwe bestuur sal dienslewering, integriteit, werkskepping en goeie bestuur vooropstel.
"Ons almal se politieke agtergronde verskil, maar ons dien hier saam vir een doel: om ons gemeenskap te dien. Ons is hier om die mandaat wat aan ons gegee is, uit te voer," het hy gesê.
Hy het ook belowe dat die nuwe bestuur oor sy vordering verslag sal doen en verantwoordelikheid sal aanvaar waar dinge nie volgens plan verloop nie.
"Ons wil eerlik verslag doen oor die vordering wat ons maak, en ons sal onsself aanspreeklik hou waar ons tekort skiet," het hy gesê.
Hy het inwoners aangemoedig om aktief by die munisipaliteit se werk betrokke te raak en die raad verantwoordelik te hou.
"Die raad behoort aan die groter Oudtshoorn. Ons is net verkies om julle te verteenwoordig en te dien. Ons sal luister voordat ons besluite neem, en ons sal sigbaar in ons gemeenskappe wees.
"Ons belofte is nie om perfek te wees nie, maar om met integriteit op te tree."
Lambaatjeen het die hoop uitgespreek dat die nuwe raadstermyn 'n hoofstuk van stabiliteit, dienslewering, waardigheid en 'n gedeelde doel vir Oudtshoorn sal inlui.
"Die mense het die mag. Hulle het die mag gehad om ons in te stem, en hulle het die mag om ons uit te stem," het hy afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’