PRINS ALBERT NUUS - Prins Albert se bekroonde Fransie Pienaar-museum het pas sy 50ste verjaarsdag, en die kurator Lydia Barrella haar 80ste luisterryk gevier.
Dit was 'n aand waarop dié mylpale nie net gedenk is nie, maar Barrella vereer is vir haar dekades lange nougesette bewaring van die geskiedenis van die omgewing.
Die museum het op 17 April 1972 sy deure geopen en Barrella is in 1995 in die pos aangestel.
Sy word allerweë beskou as die omgewing se "lopende ensiklopedie" en die vrou wat, ná haar voorgangers, Fransie Pienaar, Frieda Haak en Helena Marincowitz, die meeste gedoen het om te keer dat waardevolle dokumente, foto's, kunswerke, meubels en ander artikels van geskiedkundige belang verlore gaan.
Die museum huisves ook een van die voorste en mees geordende argiewe van kleinmuseums in die land - een van die redes waarom dit in 2017 as die Wes-Kaap se topmuseum aangewys is. Gesiene inwoners van die dorp, Mary-Ann Botha, Judy McGuire, Annette Coetzee, Marie du Toit en Ailsa Tudhope, het by die geleentheid hulde aan Barrella en vorige kurators gebring vir hul deursettingsvermoë om die dorp se geskiedenis so kundig te beskerm en te vertoon.
Die gebou huisves omvattende versamelings oor die ontstaan en ontwikkeling van Prins Albert, die geskiedenis van die dorpstigters en die geslagte daarna, asook dokumentasie en uitstallings wat fokus op kultuur, natuur, opvoedkunde, mediese en sportontwikkeling, gedwonge verskuiwings, geboue en argitektuur, hardvaardighede, die Swartbergpas, die plaaslike koerant (Prince Albert Vriend), kunsversamelings (soos van Outa Lappies oftewel Jan Schoeman), asook die argeologie, rotskuns en plantegroei van die gebied.
Boeke en inligtingstukke oor die dorp en omgewing is ook hier te koop. Fransie Pienaar Die vernoeming van die museum na Fransie Pienaar, wat in 1897 gebore is, is te danke aan haar versamelywer.
Pienaar was die dogter van Abraham en Miemie Harmse van die plaas Lammerkraal naby Prins Albert. Op haar geboortedag het haar halfbroer, Daniel Harmse, gesterf en die egpaar het toe, ter herinnering aan hom, 'n traporrel gekoop wat vandag nog in die museum te sien is. Dié orrel was waarskynlik die begin van Fransie se entoesiasme om te keer dat ou artikels verlore gaan.
Haar versamelings het ná haar troue met Gideon Pienaar en die geboorte van hul drie kinders gegroei: Van oral het mense waardevolle besittings na haar aangedra en later het haar skoonseun, Frikkie Allers, die munisipaliteit oorreed om haar versameling in 'n gebou by Kerkstraat 16 te huisves.
Fransie het alles aan die munisipaliteit geskenk en sy was die museumkurator tot in 1985 op die ouderdom van 88. Sy is twee jaar later oorlede. Hospitaal en museum In 1982 het die versameling verskuif na die huidige gebou by Kerkstraat 42 wat in 1906 opgerig is en voorheen as The Oaks bekendgestaan het.
In 1957 is dit as hospitaal gebruik, maar die munisipaliteit het dit in 1981 gekoop vir gebruik as museum. Helena Marincowitz was die Prins Alberter wat gekeer het dat dié gebou gesloop word toe die nuwe dorpshospitaal gebou is.
In 1985 is Frieda Haak as tydelike kurator aangestel en tien jaar later Barrella as eerste permanente kurator. Behalwe dat dit 'n gemeenskapsmuseum is waar interns opgelei word, is die Fransie Pienaar die bewaarplek van die dorp se verhale, met Barrella die kenner wat sorg dat dit opgeteken en geliasseer word, volgens Botha.
Voorts speel Die Vriende van die Museum 'n deurslaggewende rol in die finansiering van die eiendom en projekte, het Du Toit gesê.
Vir meer inligting skryf aan fransiepmuseum@lantic.net of skakel 023 541 1172.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Karoo nuus'