CALITZDORP NUUS - Klein Karoo Saadproduksie (KKS) het Maandag 13 Oktober 'n kontantbydrae aan Vygieshof-tehuis vir bejaardes in Calitzdorp oorhandig.
KKS is bekend vir die produksie van hoë gehalte groente, voer, weiding, agronomiese en organiese saad op kontrakbasis vir saadmaatskappye regoor die wêreld.
Volgens David Malan, besturende direkteur van KKS, is die geld tydens 'n spesiale funksie ingesamel wat vroeër die maand op hul plaas, Besemkop, buite Calitzdorp aangebied is. Die funksie is gehou ter ere van die boere wat saad vir KKS produseer.
"Ons het besluit dat, omdat die geleentheid vanjaar in Calitzdorp plaasgevind het, ons graag iets aan die gemeenskap wou teruggee. Tydens die funksie is 'n veiling gehou en ons het besluit om die geld wat ingesamel is aan Vygieshof te skenk," het Malan verduidelik.
Philip Honniball, voorsitter van die beheer-raad van Vygieshof, het met dankbaarheid die bydrae ontvang.
"Ons het die geld ongelooflik nodig. Die tehuis is bykans 60 jaar oud en het groot instandhouding nodig. Ons sal moontlik ook 'n paar nuwe matrasse vir die inwoners hiermee kan aankoop," het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’