OUDTSHOORN NUUS - Deborah Sophia Anthony (69), alom-bekend as Debbie, sal onthou word as 'n staatmaker kollega en 'n baie toegewyde opvoeder wat net die beste vir haar leerders wou hê.
So is Debbie, wat op 11 Oktober na 'n lang siekbed oorlede is, deur 'n oudkollega van Sacred Heart Primêr, Jonathan Wicomb, beskryf.
Volgens Wicomb, was sy 'n baie spesiale kollega met wie hy die voorreg gehad het om vir meer as 20 jaar saam te werk.
Anthony het volgens Wicomb ook op sportgebied meer as haar alles gegee. Sy het netbal by die skool afgerig en het ook tot haar aftrede in 2015 as skeidsregter opgetree.
"Sy was so passievol oor haar netbal dat sy sommer gedurende pouses saam met die leerders op die netbalbaan was. Debbie was nie net in die klaskamer 'n aanwins nie, maar ook vir die skool in al sy fasette. Van sport tot kerk, konserte, revues, skoolbasaars en fondsinsamelingspogings."
Volgens 'n familielid, Frank Abrahams, was Anthony, 'n pilaar van liefde, geloof en wysheid.
"Haar sagtheid het die moeë bemoedig en haar wysheid het jong siele geïnspireer," het Abrahams gesê.
Anthony het haar hoërskoolopleiding in die Paarl voltooi en haar onderwysdiploma aan die Athlone Opleidingskollege verwerf. Sy het daarna aan die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) verder studeer.
Sy het haar onderwysloopbaan in Albertinia begin en later by verskeie skole in die Oudtshoorn-omgewing. Daarna was sy verbonde aan Colridge Primêr en daarna by Sacred Heart Primêr tot haar aftrede in 2015.
Sy laat haar man, Ronnie, drie kinders, Mark, Deron en Nadia, asook vier kleinkinders agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’