OUDTSHOORN NUUS - Die bekende antropoloog en emeritus professor in antropologie en argeologie by Unisa, prof. Michael de Jongh het Saterdag-oggend, 18 Oktober, grepe uit die verhaal van Coenraad de Buys en sy nageslag met gaste by die CP Nel-museum gedeel.
Die geleentheid is deur die Vriende van die Museum gereël. De Jongh is reeds dekades besig om die stories van die verlore en onsigbare eerste mense van Suid-Afrika na te vors en te vertel.
Boeke oor die Karretjie-mense van die Karoo, die Suid-Kaap se Hessequa-mense en ook stories oor mense van die Karoo tydens die Anglo-Boereoorlog het reeds uit sy pen verskyn. Saterdag se aanbieding was oor sy boek, Truly South African - Frontier Legend Coenraad Buys and his Descendants.
Coenraad Buys (die oorspronklike van was De Buys) was 'n kleurvolle en omstrede legende wat tussen 1761 en 1821 gelewe het. Hy is in die Montagu-distrik gebore, maar as gevolg van sy berugtheid is hy nooit in die geskiedenis opgeteken nie.
"Hy en sy hele nageslag is uit die geskiedenis uitgeskryf. Jy sal nêrens in die geskiedenisboeke van vroeër iets oor die Buyse kry nie," vertel De Jongh. Die rede is waarskynlik omdat Buys se lewenswyse hom dikwels met die owerhede laat bots het en dat hy verskeie vroue van verskillende etniese groepe gehad het en talle kinders by hulle verwek het.
Die oorsprong van die boek oor Buys en sy nageslag het gekom toe De Jongh 'n aantal jare gelede in die Limpopo-provinsie naby die Soutpansberge 'n afdraaipad gesien het met die naam "Buysdorp" daarop.
De Jongh het die afdraaipad geneem en in die dorpie beland waar Buys se nageslag woon. Hy het ook onder andere lede van Buys se nageslag op Buisplaas langs die Gouritzrivier in die Albertinia-distrik en ook in die Langkloof by Eenzaamheid opgespoor.
Oor die jare het De Jongh 'n hegte band met die Buyse en Buise gevorm en die boek met kaarte, foto's, vertellings en gelagslyne het die lig gesien. Die boek het in Engels verskyn, maar De Jongh is besig om dit in Afrikaans te herskryf.
Marietjie Underhay, 'n vriendin, en lid van die Vriende van die Museum, het die besoek gereël. Oudtshoorn se erfeniskenner, Hazel Jonker, het die gesprek gelei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’