OUDTSHOORN NUUS - ’n 21-jarige man het gister, 20 Oktober in die Oudtshoorn-landdroshof vir ’n formele borgtogaansoek verskyn, nadat hy die afgelope naweek in hegtenis geneem is op aanklag van poging tot verkragting van ’n negejarige meisie.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word die voorval ondersoek deur Oudtshoorn-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings. Die voorval het glo Sondag 12 Oktober in Rosevalley plaasgevind.
“Daar word beweer dat die meisie op pad was van ’n winkel af toe sy deur ’n man genader is wat haar geld aangebied het. Sy het hom na sy woning vergesel, waar hy haar glo probeer verkrag het. Die slagoffer het daarin geslaag om te ontsnap en haar naasbestaandes ingelig,” sê Spies.
Volgens ’n betroubare bron was die meisie glo deur ’n familielid in die man se woning gevind. Haar hande was na bewering vasgebind en het hy ook ’n lap om haar mond gebind. Sy het weggehardloop toe die man omdraai na hy iemand buite hoor roep.
Lede van die gemeenskap het die verdagte kort daarna vasgekeer, waarna hy deur die polisie in hegtenis geneem is.
Die naam van die verdagte is aan Oudtshoorn Courant bekend, maar mag kragtens die wet nie gepubliseer word voordat hy formeel gepleit het nie.
Die saak is uitgestel tot Maandag 27 Oktober omdat die verdagte ’n ander adres moet verskaf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’