CALITZDORP NUUS - “Moet nie uitstel nie.” Dit is die dringende boodskap van Maria Willemse (59), ’n bekende borskanker-oorwinnaar en kankerambassadeur van Calitzdorp, tydens borskankerbewustheidsmaand.
Willemse, wat dikwels genooi word om as motiveringspreker by gesondheidsgeleenthede op te tree, besoek ook gereeld vroue wat nuut met borskanker gediagnoseer is om hulle moed in te praat. Verlede Sondag het sy tydens haar kerkdiens ’n kers aangesteek ter ere van almal wat tans teen kanker stry.
Sy vertel haar eie verhaal met eerlikheid en hoop.
“Een aand in 2012, het ek my man gevra om aan iets in my bors te voel wat ek al ’n ruk lank opmerk. Hy het bevestig wat ek gevrees het, daar was wel ’n knoppie. Ons het die volgende dag dadelik kliniek toe gegaan. Ná toetse is borskanker bevestig. Dit was reeds in ’n gevorderde stadium, en ek moes my bors laat verwyder. Maar ek het nooit moed verloor nie. Ek het teruggeveg en probeer om ander ook hoop te gee. Twee weke gelede was ek weer vir my jaarlikse opvolgbesoek, en ek dank God dat ek nou al 13 jaar skoon is.”
Elizabeth Pretorius van Royal Heights, wat saam met Willemse werk om kankerlyers by te staan, sê hulle probeer praktiese hulp en raad gee.
“Ons gebruik nog baie van die wysheid wat ek by my ouma geleer het. Ons glo daar is plek vir kruie en natuurlike middels, maar mense moet steeds dokter toe gaan. Ons probeer help waar ons kan, veral vir dié wat nie toegang tot mediese sorg het nie,” vertel Pretorius.
“Gaan gereeld vir ondersoeke. Bid gereeld en vertrou die Groot Geneesheer wat ons geskape het. En onthou, mans moet ook gereeld hul prostaat laat toets. Moenie wag totdat dit te laat is nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’