OUDTSHOORN NUUS - Eljada Kairos Skool in Oudtshoorn het Donderdagaand, 16 Oktober, feestelik die opening van vier nuwe klaskamers by die juniorkampus tydens 'n geleentheid vir genooide gaste, asook borge van die skool gevier.
Die boukoste vir die nuwe uitbreiding was ongeveer R21.3 miljoen wat alles deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement gefinansier is. Die nuwe klasse gaan aan-gewend word vir PID-leerders (Profound Intellectual Disability).
Volgens Hennie Baartman, skoolhoof van Eljada Kairos Skool, beteken hierdie uitbreiding ongelooflik baie vir die skool.
"Ons skool is besig om uit te brei, wat beteken dat ons nou vir meer PID-leerlinge voorsiening kan maak. Ons bedien die hele Klein- en Groot-Karoo-streek, en uiteindelik is ons doel om elke kind se lewe te verbeter en altyd in hul belang op te tree," sê hy.
Baartman voeg by dat die uitbreidings-proses in September vanjaar begin het en dat sewe nuwe klasse intussen bygevoeg is.
Hy het verder gesê dat hulle besig is met die assessering van 12 leerders wat tans op die waglys is. Die nuwe leerders sal Januarie 2026 kan begin.Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, het tydens sy toespraak genoem dat die entoesiasme en opgeruimdheid van die leerders 'n herinnering is aan hoe dankbaar ons vir gesondheid en geleenthede moet wees.
Verskeie ander hooggeplaastes het tydens hulle toesprake die skool en sy opvoeders geloof vir hulle toewyding en uitmuntende werk by die skool en vir die positiewe verskil wat hulle in die lewens van die leerders maak.
Die sprekers by die geleentheid was Jewel Jonkers die distriksdirekteur van onderwys, Nagene van Aswegen van Ricoh, Kelvin Ellis, die kringbestuurder en Dheena Achary van hoofkantoor in Kaapstad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’