PRINS ALBERT NUUS - Die gewilde toerismedorp, Prins Albert aan die voet van die Swartberge, is pas aangewys as die agtste mees finansieel stabiele munisipaliteit in die land.
Van die toptien munisipaliteite is nege in die Wes-Kaap met een, Midvaal, in Gauteng. Ratings Afrika is 'n onafhanklike evalueerder van finansiële stabiliteit en volhoubaarheid in munisipaliteite en publiseer sedert 2011 jaarliks hulle Munisipale Finansiële Stabiliteitsindeks (MSFI).
'n Punt uit 100 word aan munisipaliteite regoor die land toegeken op grond van bedryfsprestasie, aanspreeklikheid, begrotingspraktyke en likiditeitsposisie. Bepalende faktore is 'n munisipaliteit se gevestigde finansiële beleide, streng finansiële beheer en gesonde begrotings met langtermyn strategieë.
Burgemeester uiters trots
Linda Jaquet, burgemeester van Prins Albert, het verlede week in 'n verklaring haar trots met inwoners gedeel: "I am very proud that our municipality has been ranked eighth out of 257 municipalities nationwide in the Ratings Afrika Municipal Financial Sustainability Index (MFSI).This achievement places our small municipality among South Africa's best-governed and most financially stable municipalities, alongside much larger municipalities in the Western Cape such as Saldanha Bay, Swartland, Swellendam, Stellenbosch, Mossel Bay and Midvaal in Gauteng."
Finansiële en politieke stabiliteit
Prins Albert se munisipale bestuurder, Thys Giliomee, het aan Oudtshoorn Courant gesê, die sukses van enige munisipaliteit berus op stabiele leierskap en die aanstel van bekwame en bevoegde personeel. "Finansiële bestuur behels nie bloot die bestuur van geld nie, dit behels ook die bestuur van mense en spanne, want 'n munisipaliteit is veel meer as net kantore. Die regte mense moet aangestel word en hulle moet hulle werk kan doen sonder politieke inmenging," het hy Vrydag in sy kantoor gesê. Hy het ook bygevoeg dat die munisipaliteit 'n diensleweraar en nie 'n werkskepper is nie.
Jaquet beaam dit en voeg by dat politieke stabiliteit uiters belangrik is vir finansiële stabiliteit in enige munisipaliteit. Sy noem dat Prins Albert sedert 2022 politieke stabiliteit beleef en dat dit in die resultate reflekteer. Sy en Giliomee is dit eens dat 'n munisipaliteit op die kernfunksies van dienslewering moet fokus en in vennootskap met sy inwoners en privaat sektor moet saamwerk.
Jaquet het gesê Rating Afrika se evaluasie van Prins Albert is 'n bewys van die munisipaliteit se gesonde finansiële bestuur, verantwoordelike begrotingsbestuur, effektiewe skuldbeheer, strategiese infrastruktuurbelegging en die toewyding van die personeel. Sy het haar dank uitgespreek teenoor die munisipale bestuurder, die hoof van finansies, elke amptenaar en werknemer, elke raadslid en inwoners wat getrou hulle munisipale dienste betaal. Sy het terloops bygevoeg dat sy onlangs verneem het dat Prins Albert die laagste eiendomsbelasting in die provinsie het.
Die lys van die 10 mees finansieel stabiele munisipaliteite in die land is:
Saldanhabaai in die eerste plek, gevolg deur Swartland, Swellendam, Hessequa, Midvaal (in Gauteng), Mosselbaai, Stellenbosch, Prins Albert, Overstrand en Drakenstein.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’