PRINS ALBERT-NUUS - "Trump het die slaai kom deurmekaarkrap met sy 30% tariewe, maar Amerika is nie ons belangrikste uitvoermark nie," dit was een van die opmerkings wat dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, toerisme en ekonomiese ontwikkeling, Vrydag 17 Oktober tydens 'n seminaar oor die uitvoerbedryf in Prins Albert gemaak het.
Meyer was die gasspreker van die seminaar en het verskeie punte, wat hy die vorige aand met die opening van die landbouskou geopper het, weer benadruk.
Die seminaar was een van talle wat regoor die provinsie deur die Wes-Kaapse regering aangebied word om sakelui, landbouers en entrepreneurs oor uitvoermoontlikhede en prosedures in te lig.
Volgens hom wonder mense dalk wat die Karoo het om uit te voer, maar dat hulle verbaas sal wees oor wat die markte in die buiteland soek.
"Trump moet onthou dat slegs 4% van ons uitvoere Amerika toe gaan. Die ander 96% gaan na Europa en die Ooste toe. Ongelukkig benadeel sy tariewe die wyn en sitrusbedryf, maar Kanada het byvoorbeeld alle Amerikaanse wyn van hulle rakke afgehaal en hulle soek Suid-Afrikaanse wyn."
Meyer het ook genoem dat die Karoo vanjaar per kapita die grootste toedeling van die Wes-Kaapse begroting ontvang en daar groot geleenthede vir die streek wag. Hy het gesê dat die buitewêreld deeglik bewus is van die kwaliteit van Suid-Afrika se produkte. Hy het ook daarop gewys dat 30% van rooibostee wat uitgevoer word na Japan gaan en dat Suid-Afrika die tweede grootste uitvoerder van sitrusvrugte in die wêreld is.
"Ons moet onthou dat mense in die buiteland nie bloot produkte invoer nie, hulle voer stories in en Suid-Afrika se produkte het elkeen 'n storie. Die storie verkoop die produk."
Robert Burton van AVOOVA, sakeman en uitvoerder van uitsoekprodukte. Foto: Hannes Visser
Robert Burton, die eienaar van AVOOVA, wat uiters gesogte uitsoekgeskenke uit gebreekte volstruiseierdoppe vervaardig en uitvoer, het dit beaam. Al die produkte word in Prins Albert vervaardig en verskaf werk aan meer as 30 mense. Hy het gesê die aanvraag in die buiteland is groot en dat hy die werkersmag sal moet verdriedubbel. Hy besit ook 'n maatskappy wat handgemaakte juweliersware uit platinum vervaardig en een wat kleurvolle lampskerms uit herwonne materiaal maak.
Die seminare oor die uitvoerbedryf word deur die departement aangebied en navrae kan per e-pos gestuur word aan Dedat.SectorSupport@westerncape.gov.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’